Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rowers gou hul buit kwyt

Rowers gou hul buit kwyt
 
2005-12-14


SKAARS 50m van die bank waar hy R11 000 in kontant getrek het, het ’n man van Noorder-Paarl Vrydag gaan staan om na ’n tweedehandse vrieskas te kyk - en sy vakansiegeld verloor.

’n Man het aan Francois Siebrits gestamp terwyl sy makker sonder om ’n woord te rep die pak R200-note uit die slagoffer se kortbroeksak gehaal het.

Terwyl Siebrits (64) in ongeloof bly staan het, het die rowers na hul motor voor Kentucky Fried Chicken gedraf, ’n U-draai gemaak en in die rigting van Suider-Paarl verdwyn.

Die rowers het dalk gedink hulle lei die polisie op ’n dwaalspoor na die N1, maar min het hulle geweet wat wag in Windmeul.

Want dis waarskynlik hoe hulle die vlugroete beplan het - uit Bo-Lady Greystraat, noord tot in Pleinstraat en dan met die Hoofstraat tot in Noorder-Paarl.

Leon de Koker, verkoopsman van Dreyer Meubels, het die voorval gesien en dadelik alarm gemaak.

Die polisie het onmiddellik alle roetes uit die Paarl verseël en na die silwer-kleurige Opel Astra met die Kaapstadse registrasienommer gesoek.

Op die polisieradio, waar konst Eugene Conradie en sy span ’n roetine-padblokkade voor die Windmeul posagentskap beman het, het hulle ook die boodskap gehoor.

Minute later het die rowers in die arms van die gereg ingery.
Alhoewel hulle onkunde gepleit het, het dit die polisiemanne nie lank geneem om die kontant onder die bestuurder se voetmatjie te ontdek nie.

“Die skok toe ek hoor dat ek my geld teruggekry het, was byna groter as dié van die rooftog,” kan Siebrits nou weer glimlag.
“Die polisie was wonderlik.”

Siebrits het die geld by Absa getrek vir sy beplande Kersvakansie.
Die R10 000 was in een broeksak, en nog ’n duisend rand in ’n beursie in die ander sak. Dit het die rowers nie bygekom nie.

“In al my jare in die Kaap het niks my ooit oorgekom nie. Ek is skaars ’n week in die Paarl en nou dit - en al wat ek gedoen het was om rustig op die stoep van Dreyers te staan en kyk na ’n tweedehandse vrieskas.

“Ek het nou geleer uit my foute. Met sulke geld loop ek nie weer nie. Maar as ek jonger was sou ek die ouens darem ’n ding of twee gewys het.”

Die vermoede is dat een van die rowers moontlik in die bank was waar die geld getrek is, en dat twee hul teiken agtervolg het, terwyl hul makker in die motor gewag het.

Die verdagtes, Andile Mlambo, Sindisa Ngubuse en Velile Meschek van Guguletu en Philippi, het reeds in die Paarl landdroshof verskyn.
Volgens ’n omstander het een van die mans geprewel: “Friday was a bad luck day”.

* Three robbers made off with R10 000 after pick a pocket, only to be relieved of their ill-gotten gains by the police at a routine roadblock north of Paarl.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za