Weghol-brande saai verwoesting
2005-12-14
Lise Beyers
BRANDWEERDIENSTE van dwarsoor die Boland het sedert Donderdag gespook om die verwoestende veldbrande in Bainskloof onder beheer te bring.
Meer as 11 000 hektaar fynbos en landbougrond is verwoes, aangevuur deur ’n tierende stormwind.
Die Wellington-gebied was vir dae lank toe onder ’n donker rookwolk, en die Groenberg het behoorlik gelyk soos ’n vuurspuwende berg. Die as van die brand het so ver as Riebeeck-Kasteel geval.
Ian Roth, hoof van die Wynland Distriksmunisipaliteit se brand- en reddingsdiens, het gesê dat twee afsonderlike brande die vuurpoel veroorsaak het wat bykans vier dae gewoed het.
Toe die brand Donderdag uitbreek, het ’n groep kinders by die gewilde kampeerterrein Tweede Tol gevlug voor die vlamme en skuiling in waterpoele gesoek. Drie van die kinders is later behandel vir rookinaseming.
Van die geboue op die terrein is deur die vlamme beskadig. Dit is steeds onseker presies hoe die brande uitgebreek het, maar volgens gerugte het ’n braaivuur by Tweede Tol buite beheer geraak.
’n Boer van Agter-Groenberg, Allen Harris, is een van die talle boere wat erg skade gelei het.
“Ek het onder andere ’n hektaar waardevolle boegoe verloor met ’n beraamde waarde van ’n halfmiljoen rand.”
Hy het gesê dat die boere in die gebied eers hierdie week die volle skade kan bepaal wat aan hul grond aangerig is, maar na beraming sal dit miljoene rande beloop.
Lewende hawe, olyfboorde, wingerde en weivelde is vernietig.
Sue Turner, mede-eienaar van die Bontebok Ridge Reservaat, het gesê dat hulle twee eland-kalfies en 400 hektaar weiveld verloor het. Sy het gesê dat voer nou vir hulle wild aangery sal moet word omdat daar feitlik geen on-geskonde veld oor is nie.
Sy het bygevoeg dat die grondeienaars in dié omgewing graag die brandweerdienste, asook Cape Nature, wil bedank vir hul onbaatsugtige pogings om die brand te tem.
Roth het gesê dat alhoewel so ’n vernietigende brand altyd baie hartseer is, was baie van die fynbos-veld wat gebrand het ou bos wat elke paar jaar moet uitbrand.
Net toe die brande in Bainskloof Sondag onder beheer gebring is, het ’n brand onder die brug by die Huguenot tonnel ontstaan.
Die brandweerdienste het egter spoedig opgetree en het daarin geslaag om dit te blus voordat dit verder oor die berg kon versprei. Die tolpad was vir twee uur om veiligheidsredes gesluit.
Cape Nature en die brandweerdienste het die publiek gemaan om uiters waaksaam in die somermaande te wees as hulle vuurmaak.
* The veld fire which started in Bain’s Kloof last week caused destruction on Wellington farms, fueled by gale force winds.
More
News
|