Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Van motorhuis na voorste onderneming

Van motorhuis na voorste onderneming
 
2005-12-14

Engela Duvenage

WIE nie waag nie, wen nie.

Dis verseker waar van verspreiders André Smit en Jacques Beukes van Global Investment Marketing, wat aangewys is as die Wellington Sakekamer se Sakepersone van die Jaar vir 2005.

In die industriële gebied deel hulle ‘n groot kantoor - ‘n gebruik wat oorgewaai het van hul “garage-dae” toe hulle saam vanuit André se motorhuis in Durbanville begin het om hul besigheid op die been te bring.

“So weet elkeen presies wat aangaan, en is jou vennoot sommer klaar ‘gebrief’ en hoef jy nie nog ‘n vergadering met hom reël nie,” lag André.

In September 1997 het die dinamiese duo saam ‘n waagstuk aangegaan om met die laaste R3000 tot hul beskikking hul bestaande betrekkings te verlaat en met ‘n paar kontrakte op hul naam hul eie verspreidingsmaatskappy te begin.

Met die geboorte van hul onderneming is die geld gebruik vir ‘n faksmasjien en brandstof om met verspreiding te kan begin.

“Ons het toe nog nie ‘n bankrekening of ‘n naam gehad nie,” onthou Jacques vandag, vanuit hul smaakvolle gebou in die industriële gebied, wat binnekort verder vergroot gaan word om te kan voorbly met die aanvraag na stoorruimte.

“Smit Beukes Bemarking sou dalk net nie so goed geklink het nie,” spot hulle.

Met die regte vir die verspreiding van potte, braairoosters, Tarzan skoene en swembadskoonmaakmiddels het hulle aan die werk gespring, en in hul eerste maand ‘n omset van R21 000 gehad.

Gou het hul ook die verspreidingsregte vir Pedigree hondekos gekry, en tel nou gereeld onder Master Foods se beste verspreiders landwyd.

Toe André se motorhuis te klein geraak het vir stoorplek, het hulle in 1999 geskuif na die Everite industriële park in Brackenfell.

In Februarie 2003 het hulle begin bou aan hul huidige 525 vierkante meter perseel op Wellington, en het André en sy gesin by die Beukesse aangesluit as inwoners van dié dorp.

Hul 1300 bakkies is ook weldra vervang met vragmotors en ander nutsvoertuie om te help met verspreiding regoor die land. Hulle het depots is Upington, George, Port Elizabeth en in KwaZulu-Natal.

Vandag is hul grootste kliënte in die hardeware- en buitelewebedryf, asook troeteldierwinkels.

Hulle tel reeds sedert 2000 onder WPK se top tien verspreiders, waar hulle meeding teen genoteerde sakeondernemings soos Shell, PPC Sement en Total, asook ‘n Italiaanse spuitpompmaatskappy. In 2003 is hulle aangewys as WPK se Topverspreider.

“Gemeet teenoor die ander ondernemings in die Top 10 is ons die enigste streeksverspreider,” vertel Jacques.

En waar sou hulle sê lê hul sukses?

Vir Jacques lê dit in hul spesifieke bemarkingsfunksie en diens regdeur die verkoopsketting, wat nie net verseker dat produkte betyds gelewer word nie, maar dat dit netjies op ‘n kleinhandelaar se rak uitgestal en bemark word.

Vir André lê hul sukses weer opgesluit in die waarheid wat ‘n gesoute ou sakeman hom geleer het.

“Jy moet meer ure as jou opposisie insit - vroeër begin en later klaarmaak.”

“En ja, goeie diens en ‘n goeie produk lewer.”
* André Smit and Jacques Beukes are Wellington’s businessmen of the year.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za