Paarliet stal in Kaap uit
2005-03-31
’n JONG Paarlse kunstenaar, Lara Kruger, stal op die oomblik in die Van der Meulen Kunsgalery in Kloofstraat, Kaapstad, uit.
Die galery het besluit om ’n besondere uitstalling van jong talent aanmekaar te slaan.
Saam met Lara is daar nog drie gegradueerde studente van die Universiteit van Stellenbosch. Linda DeCanha, Carla du Plesis en Bernice Lizamore van Stellenbosch se werke fasineer die kyker met hul verskeidenheid talente, teksture, materiale en konsepte.
Vyf kunstenaars van Ruth Prowse neem ook deel. Hulle is Ellie de Beer, Tessa Holding, Christopher List, Sanet Visser en Karl Rubesh. Die uitstalling is deur Keith Dietrich van die Universiteit Stellenbosch geopen.
Lara se kuns is divers in onderwerp sowel as medium. Haar tegniek en medium wissel van konsep tot konsep, maar ’n deurlopende motief is dié van intense en soms herhalende arbeid.
Sy glo dat hierdie wyse van werk ’n sekere kwaliteit tot die kunswerk bydra, selfs al is dit nie fisies sigbaar in die eindproduk nie.
Sy put inspirasie uit teksture en lyne te vinde in die alledaagse lewe en haar onmiddelike omgewing, met ’n spesifieke belangstelling in die denkproses en die spasies waarin dit plaasvind.
Lara het ’n BA in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Stellenbocsh behaal en is tans ’n deeltydse kuns- en kultuuronderwyseres by Curro Privaatskool in Durbanville.
Sy het reeds aan verskeie groepuitstallings deelgeneem. Haar werk kan ook gesien word by De Kraal Galery, Paarl, en Bloom Galery, Stellenbosch.
Die uitstalling duur tot 29 April. Van der Meulen Kunsgalery is in Kloofstraat 103, met die ingang in Weltevredestraat. Die galery is oop van 08:00 tot 15:30. Vir navrae, kontak Nienke van der Meulen op 082-588-6411.
More
News
|