Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wellington sukkel met paaltjies

Wellington sukkel met paaltjies
 
2005-12-14


HOEWEL die manne van Wellington Saterdag hul uiterste probeer het om Oostelikes Krieketklub se kop te laat rol, was ’n sege op hul tuisveld hul nie beskore nie.

Die tuisspan verloor die loot en word ingestuur om die boulaanval van Oostelikes te trotseer.

Ná ’n goeie openingsvennootskap in moeilike omstandighede en akkurate boulwerk, lê die kolwers ’n goeie fondasie vir die span om ’n groot telling op die bord te sit.

Dawie Malan (52) en Warren Groeneveldt (44) het hier voorgevat.

Die kolwer wat die boulers egter met minagting behandel het, was Jaco Carstens (86nun 4x9 en 6x1). Hy is goed ondersteun deur Stiaan van Zyl (35nun) wat Wellington ’n telling van 243/3 in die toegelate 60 boulbeurte laat behaal.

Jonathan Clark (1/24 in 12bb) was die Oostelikes se mees ekonomiese bouler.

Ná middagete moes Wellington die besoekers laat kleitrap op 'n kolfblad wat al makker begin raak het, namate die wedstryd gevorder het.

Die tuisspan begin goed, met Ryan Groeneveldt (3/22 in 12bb) wat ’n paaltjie in die eerste beurt laat kantel.

Daarna het die Clark-broers egter vasgeskop en vir Wellington laat sweet.

Aanhoudende druk en die wete dat hy elke moontlike punt moet insamel om in aanmerking te kom vir klubkampioenskappe, het die tuisspan laat aanhou baklei.

Die Wellingtonners het senuweeagtig begin rondtrap, met die telling op 75/1 ná 16 boulbeurte.

Dawie Malan (2/29 in 9bb) het uiteindelik die deurbraak gemaak deur die gevaarman Jonathan Clark (65) om sy bene te boul. Kort daarna was dit sy broer, Anthony (65), se beurt toe Malan ’n uitstekende vangskoot van sy eie boulwerk benut om hom terug te stuur pawiljoen toe.

Die staatmaker draaibalbouler, Marnus Hugo (2/44 in 15bb), het ook in ’n uiters aggressiewe skof die besoekers ontsenu.

Oostelikes het hierna laer getrek en verkies om net die beurte uit te speel eerder as om die lopies te jaag.

Dit het die spannende wedstryd in die laaste 10 beurte gesmoor en die besoekers eindig met 185/8, vir ’n onbesliste uitslag.

Wellington palm egter 10 van die 15 beskikbare punte in.

Die tweede span het op Kraaifontein hul beurt vir Oostelikes II (153) met vyf paaltjies geklop.

Christian Laubscher (2/30 in 13bb), Herman Geldenhuys (2/35 in 15bb), Cedric Williams (3/21 in 7bb), Phil Adams (1/7 in 6bb en 38nun 4x3) en Riaan Liebenberg (52 4x4) was die besoekers se uitblinkers.

Wellington I speel Vrydag sy laaste wedstryd vir die jaar tuis teen Brackenfell wat tans die liga-voorloper is. Dit beloof om ’n baie goeie wedstryd te wees en die klubbestuur nooi alle oud-spelers en toeskouers om die dag saam met hulle te geniet by die klubhuis.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za