Boland slag Luiperds in 7's
2005-12-14
DIE Wes-Kaap en in die besonder die Boland is koning as dit kom by sewesrugby speel. Dit was baie duidelik toe die Boland Saterdag op George die Noordwes Luiperds met 51-0 vernietig het in die eindstryd van die nasionale seweskompetisie.
Die Bolanders het 11 drieë ingeryg in dié wedstryd wat gespeel is tydens die Suid-Afrikaanse been van die Internasionale Rugby Raad (IRB) Sewestoernooi wat op dié kusdorp gehou is.
Die Boland het rustyd reeds 34-0 voorgeloop in dié eensydige affêre en só die titel wat hul verlede jaar ingepalm het, suksesvol verdedig.
“Ons het die wind heeltemal uit hul seile gevat. Hulle het nooit die bal gesien nie,” het die Boland-span se afrigter, Arthur Jansen, Maandag gesê.
Die groot onderliggende faktor tot die Bolanders se sukses was die gemak waarmee hulle balbesit omgekeer het.
“Ons moes 12 keer afskop en het elke keer besit omgekeer. Hier het Frankie Horn en Whalied Heyns ’n reuse taak vermag,” vertel Jansen. Horn was dan ook in die bevoorregte posisie om in die SA Reserwe poel van 10 spelers opgeneem te wees.
Dié span het vooraf oefenwedstryde teen die onderskeie spanne gespeel en was ook tot die beskikking van enige land wat weens beserings tydens die toernooi nie ’n volle span in die veld kon stoot nie.
“Daar was sprake dat Frankie Saterdag vir Tunisië sou uitdraf, maar gelukkig het dié span se spelers vroegtydig van hul beserings herstel.”
Nog ’n speler wat die verbeelding aangegryp het, was die blitsige Louw Schabord.
Schabord, wat vanjaar heelagter vir Wellington Rugbyklub se eerste span gespeel het, het telkens die voordeellyn oorgesteek en só die gapings vir sy spanmaats oopgebeur.
Daar is definitief groei in sewesrugby in die Boland. Hier is baie talent en die standaard van die spel in die suide is net baie hoër as in die noorde,” het Jansen gesê.
More
News
|