Peoples werk rof met Worcester
2005-12-14
IN ’n senutergende stryd Saterdag op Daljosafat Stadion het Young Peoples se eerste krieketspan met die voorlaaste bal van die wedstryd ’n vier paaltjie sege oor Worcester United behaal.
Die tuisspan is die taak gestel om 164 lopies aan te teken nadat die besoekers 163/9 in hul 60 boulbeurte aangeteken het.
Alvin Pretorius se 35 was die hoogste telling wat deur Worcester-kolwers aangeteken is.
Die akkuraatheid van Quinton Kannemeyer (3/43 in 15bb), Hubert Ontong (2/13 in 16bb) en Jarier Alexander (2/23 in 6bb) het die besoekers se taak voor die penne bemoeilik.
Warren George (45 4x4) was die tuisspan se voorste lopiemaker.
George het egter die veld in die 23ste boulbeurt verlaat, met sy telling op 32, nadat hy ’n dyspierbesering opgedoen het. Hy het in die 45ste beurt weer na die kolfkampie teruggekeer, met ’n hardloper aan sy sy.
Edwin Jacobs (32 4x5) was die ander Peoples-kolwer wat die bal goed raakgeklits het.
In die laaste boulbeurt was dit Brendon Gabriels (11nun) en Shaun Andrews (18nun) wat voor die penne was.
Met slegs twee balle oor en Peoples op 162 het die spanning behoorlik hoog geloop.
Andrews maak egter geen fout nie en moker ’n grenshou deur die middebaan om sy span van ’n sege te verseker.
Op Worcester het die tweede span ook met groot sukses met die tuisspan afgereken.
Worcester word vir goedkoop uitgehaal met slegs 119 op die telbord. Tom-Ross Fortuin (5/28 in 14bb) was die groot paaltjie-jagter terwyl Ryan Davids (2/9 in 4bb) ook ’n waardevolle paar beurte afgestuur het.
Gehalte veldwerk deur die besoekers het daartoe gelei dat twee kolwers uitgehardloop is.
Peoples moker die wenlopies reeds in die 19de beurt om 122/2 op die telbord te sit.
Elmarco Janjala (51 4x6, 6x1), Lindsay Davy (26 4x2) het lopies gekry, terwyl Wade October (26nun 4x2) en Fortuin (7nun) die wa deur die drif getrek het.
Die derde span het op Brackenfell hul tweede nederlaag van die seisoen gelei toe hulle met 48 lopies teen Brackenfell verloor het. Die tuisspan moker ’n reuse 287 in hul toegelate 50 boulbeurte. Peoples se Jermaine Williams (3/52 in 10bb) en Jonathan Jacobs (2/48 in 10bb) het die beste van die Paarlse boulers gevaar. Die Paarliete kon slegs 239/9 aanteken.
More
News
|