Projekbestuurder vir Paarl Hospitaal
2005-12-14
HY is ’n Namakwalander wat ’n Kaapse draai gemaak het voordat hy nou aangestel is as projekbestuurder by Paarl Hospitaal.
Robert Brown is ’n rustige man met ’n breë glimlag en groot opgewondenheid oor die ombouings en aanbouings by die hospitaal.
Brown werk nou saam met Esther Smit, wat betrokke was by die beplanning en nou verantwoordelik is vir die aankoop van toerusting.
“Die hospitaal is die mense s’n,” het Brown gesê en gevra dat mense geduldig moet wees met die konstruksie wat vroeg volgende jaar gaan begin.
“Dit gaan ongerief vir ons en die gemeenskap beteken, maar dit is tot ons almal se voordeel.”
Die Nasionale Departement van Gesondheid het ’n bedrag van R273 miljoen vir die projek bewillig.
Tenders vir die projek het in November gesluit. Bouwerk begin vroeg in 2006 en behoort sowat 38 maande te duur.
Die planne maak voorsiening daarvoor dat die bestaande hoofgebou aan die noordekant uitgebrei word met ’n toringblok van ses verdiepings vir sale, terwyl ’n nuwe tweeverdieping-administrasieblok voor by die hoofingang aangebou word.
Dit sal die getal beddens van 220 tot 350 verhoog.
More
News
|