Boland meesters laat rekords spat
2005-03-31
VYF lede van die Boland Meestersvereniging het tydens die WP kampioenskappe op Parow die atletiekrekords laat spat.
Izak Nel, Theunis Mostert en Ronél Beukes het aldrie hul name in die rekordboeke gekry danksy uitblink-prestasies.
Nel se tyd van 1:37:27 in die 20km stap vir 40-44jr was ’n raps beter as die ou rekord van 1:37:48.
Nel verteenwoordig ook die Boland Meestersvereniging by die SA Senior Atletiekkampioenskappe wat eersdaags in Durban plaasvind. Mostert se sprong van 6,44m in die verspring vir ouderdomsgroep 30-34jr het ook die ou rekord van 6,15m oortref.
Hy het dan ook die driesprong met ’n afstand van 12,26m gewen. Ronél Beukes het ’n nuwe rekord losgehardloop toe sy die 200m vir vroue 45-49jr in 27,09s (OR 27,30s) afgelê het.
Beukes het ook goud verower in die 100m (13,34s) en 400m (62,67s).
Nog ’n atleet wat tydens die tweedag-byeenkoms goed vertoon het, is Frans Kotze. Kotze wat in die 50-54jr ouderdomsgroep meegeding het, het goud verower in die 800m (2:47,40) en 1500m (5:28,47) en was derde in beide die 5000m (20:07,02) en 10 000m (41:22,48).
Nollie Nolte was eerste in die 1500m (4:48,41) vir atlete in die 45-49jr groep.
More
News
|