Kyk na stories
2005-12-21
SOEK u na iets interessants om te doen gedurende die vakansie? Drakenstein Munisipaliteit en die Afrikaanse Taalmuseum bied ’n gesamentlike uitstalling, getiteld “My straat, my erfenis” by die Taalmuseum in Pastorielaan, Paarl aan.
Die uitstalling is gebaseer op die Drakenstein Munisipaliteit se kreatiewe skryffees wat vroeër vanjaar plaasgevind het.
Die gemeenskap is uitgenooi om stories in te stuur waarin hulle vertel hoe dit voel om in hulle straat te woon, hoe dit daar lyk en watter bekende mense daar grootgeword het.
Inskrywings kon in Afrikaans, Engels en Xhosa ingestuur word en daar was ses verskillende kategorieë, vir poësie en prosa, vir laerskole, hoërskole en volwassenes.
Die reaksie was oorweldigend en meer as 600 inskrywings is ontvang. Twaalf wenners, wie se ouderdomme wissel van 10 tot 56, is in Mei aangewys.
Hierdie twaalf wenstories, plus volkleur foto’s van die wenskrywers, afgeneem in hulle eie strate, vorm nou deel van die uitstalling wat tot Desember by die Taalmuseum te sien sal wees.
Die uitstalling fokus op hoe belangrik die opteken en vertel van stories is vir die bewaring van ons gemeenskap se plaaslike geskiedenis en erfenis.
Een van die wenstories, van mev MA Johnson, vertel van die opgewondenheid wat destyds in 1976 in Beukesstraat geheers het toe ’n familie die eerste televisiestel in die straat gekry het.
’n Ander wenner, Landolf Theron, verduidelik hoe Jordaanstraat sy naam gekry het, ná dit oorspronklik Malan- of Louwstraat sou heet.
Ander deelnemers vertel aan die een kant van bende-aktiwiteite, dwelms en vullis, en aan die ander kant van vredestuine, ’n jeugsentrum en van bure wat vir mekaar omgee en nooit uit hul strate sal wegtrek nie, nie eers vir ’n miljoen rand nie ...
More
News
|