Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe gids het passie vir Afrikaans

Nuwe gids het passie vir Afrikaans
 
2005-12-21


JOHAN OOSTHUIZEN is ’n man met ’n passie vir sy taal en sy omgewing - sekerlik die perfekte eienskappe vir ’n toergids wat deesdae plaaslike en oorsese toeriste aan die Taalmonument bekend stel.

Johan het onlangs as onafhanklike kontrakteur begeleide toere by die Taalmonument begin aanbied ná hy ’n berig in die Paarl Post gelees het waarin dié geleentheid geadverteer is.

Hy sê hy geniet dié nuwe uitdaging en dat hy graag sy belangstellings, veral sy liefde vir die natuur, met mense wil deel.

“Dit is my oogpunt om die ware geskiedenis van die Afrikaanse taal oor te dra. Dit word so dikwels verkeerd oorgedra of verdraai dat dit glad nie meer die ware storie vertel nie.”

Hy het vyf jaar gelede in die Paarl kom “aftree” ná ’n interessante loopbaan waartydens hy gewerk het as geoloog in die mynbedryf en as bemarker in die motor- en voedselbedryf. Ook het hy al sy eie reeks juweliersware vervaardig en bemark.

Die toerismegogga het hom juis gebyt toe ’n toergids hom eendag, toe hy nog sy juwele by ’n stalletjie by die Taalmonument verkoop het, gevra het om uit te help met ’n besoekende toer_groep.

Min sou hy toe kon raai dat hy wel eendag toere by die einste monument sal aanbied as gekwalifiseerde nasionale toergids.
Sedert 2003 het hy hom bekwaam as nasionale toergids (vir al nege provinsies), asook as gevorderde natuurgids, en het hy sy eie toere in die omgewing begin aanbied.

Johan bied tans begeleide toere vanaf Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 16:00 by die Taalmonument aan. ’n Toer duur ongeveer 30 minute, afhangende van die hoeveelheid vrae wat gestel word. ’n Begeleide toer kos R5 per persoon, addisioneel tot toegangsgelde.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za