Waar kan 'n mens hand bysit?
2005-12-21
AL ooit hande in die hare gesit en wonder waar om inligting oor organisasies en projekte in die gemeenskap te bekom? Hier is ’n klompie organisasies, met kontakbesonderhede, vir u inligting.
Miqlat: Miqlat is betrokke by ’n skool in ons omgewing waar daar ongeveer 200 kinders geïdentifiseer is wat nie voedsel by die huis kry nie, van hulle raak gereeld flou by die skool. Hulle het met ’n sopkombuis by die skool begin en benodig dringend voedselprodukte. Die skool het wel aansoek gedoen by die Dept van Onderwys tov ’n voedselskema, maar dit sal eers April in werking tree. Dié kinders se ouers is ook nie in staat om hulle skoolfonds te betaal nie, Miqlat het ook met ’n projek begin om geld in te samel om die kinders se skoolfonds te betaal. Die skoolfonds is R350 per jaar. Vir meer besonderhede, skakel Hester Veldsman by 872-2421 of 082-447-7727.
Koinonia: Koinonia gee opleiding tov geakkrediteerde vaardigheidsontwikkelingsprogramme, gee advies en bied geleenthede aan jongmense tussen die ouderdom van 16 en 35 jaar. Hulle rig ’n spesifieke versoek aan besighede om met hulle vennootskappe te sluit met die doel dat studente praktiese ervaring kan opdoen by die besighede. Vir meer besonderhede, skakel Eddie Williams by 872-2141/2/3.
Helping Hands Sopkombuis: Helping Hands sopkombuis word bedryf deur Japie en Susan Swartz (albei pensioentrekkers) uit hulle woonstel in Paarl-Oos. Hulle gee aan 150 kinders en 10 bejaardes twee maal per week voedsel uit. Hulle kry nie op ’n gereelde basis voedsel nie en geen besigheid is betrokke by hulle nie. Meeste van die tyd moet hulle van hulle ouderdomspensioen gebruik om voedsel aan te koop. Hulle benodig dringend voedselprodukte. Meeste van die kinders wat by hulle kos kry, is voorskoolse -en laerskool kinders. Vir meer besonderhede, skakel Susan Swartz by 862-8547.
Nosizwe Gemeenskapsontwikkelingsprojek: Hierdie projek is al van 1999 besig as inkomstegenererende projek om naaldwerk en kralewerk te doen. Drie persone is betrokke by die projek. Hulle benodig naaldwerkmasjiene, krale en materiaal. Vir navrae, skakel Jolanda van der Lingen by 872-2495 of 084-393-1192.
Wilmot Africa Straatkinderprojek: Die projek benodig groot potte en kombuisware soos bv, messe en vurke, borde ens. Die projek is afhanklik van donasies om hulle dienste te lewer en kan nie altyd die administratiewe uitgawes bekostig nie. Hulle het ook ’n behoefte aan voorafbetaalde telefoonkaarte, ink vir rekenaar en rekenaarpapier. Vir meer besonderhede, skakel vir Suzette Africa by 862-5632 of 072-022-5366.
Mothers to Mothers to Be (M2M2B): Die projek fokus op moeders wat MIV positief getoets is en let op werkskepping en opleiding tov versorging van hulleself en van hulle kinders. Die projek benodig kospakkies, babaklere en vroueklere. Skakel Patty Brooks by 083-310-5686.
Vukenzenzela groentetuin: Twaalf persone het ’n groentetuin, waar hulle groente verbou om vir hulself ’n inkomste te genereer. Hulle benodig saadjies/saailinge om te plant. Skakel Titus Hendricks by 868-1707.
Kuyasa Naaldwerkprojek: Die projek is ’n inkomstegenererende projek en maak klere (meestal skoolklere) wat hulle dan in die gemeenskap verkoop. Hulle benodig materiaal, rekke vir sweetpakke, stoomstrykysters, naaldwerkmasjiene, opkapmasjiene, naaldwerkmasjien om knoopsgate mee te maak, ’n rekenaar en ’n faksmasjien. Skakel Jolanda van der Lingen by 872-2495 of 084-393-1192.
Treatment Action Campaign (TAC): Hierdie projek doen vrywillig berading tov MIV/Vigs, hulle bied ook werkswinkels aan tov MIV/Vigs. Die projek benodig kantoortoerusting soos bv rekenaars, faksmasjien, kaste, tafel, stoele, lessenaars. Skakel Thapelo Moahloli by 073-269-5322 of Jolanda van der Lingen by 872-2495 of 084- 393-1192.
Ikhwezi-Vigswesie projek: Ikhwezi doen berading en nasorg van kinders wat vigswesies is. Hulle help ook met die betaling van skoolfooie, voorsiening van skoolklere en gee ook kospakkies uit aan gesinne wat vigswesies versorg. Hulle benodig kos vir kospakkies, klere, rekenaar en speelgoed vir die kinders. Skakel Thandi Maseti by 868-1707.
Eldeme voedselprosessering en spyseniering: Vir die afgelope 5 jaar voorsien die projek kos aan kleuterskole, gesondheidsdienste en minderbevoorregte kinders. Hulle gee aan 350 kinders drie maal per week voedsel. Hulle benodig vrugte, groente, breekware en eetgerei. Skakel Dalena Ockhuys by 868-1707.
More
News
|