Kavaliers op pad om Cheetahs te jag
2005-03-31
HOEWEL die Cheetahs hul laaste Vodacom-wedstryd 27-16 teen die Valke verloor het, sal die Boland Kavaliers nie te gerus wees wanneer hulle dié span môreaand in Bloemfontein pak nie.
Ondanks die Cheetahs se trae vertoning teen die Valke het hulle wel hul eerste wedstryd teen die Olifante in Port Elizabeth 32-18 gewen, en sal hulle beslis met hand en tand baklei vir ’n tuis-oorwinning.
Dit sal die Kavaliers, wat stert in die lug draf na twee agtereenvolgende tuisseges, se eerste wegwedstryd wees in vanjaar se Vodacom-kompetisie.
Vier veranderinge is aangebring aan die begin vyftiental van die Boland Kavaliers-span wat onlangs die Griekwas 29-15 geklop het.
Die opwindende vleuel Rayno Benjamin, wat by die Springbok-sewespan betrokke was, is terug op sy pos vir die Kavaliers. Hy vervang Renfred Dazel.
Neil Papier (skrumskakel), Henk Eksteen (slot) en Jaco Engels (loskop) vervang Charl Blom, Nicky Smit en Fabian Brandt in die beginspan, terwyl dié drie op die plaasvervangerbank hul plekke inneem.
Die veelsydige voorspeler, Nico Smit, vervang dan ook vir Frankie Horn op die plaasvervangerbank.
Volgens die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, is die veranderinge deel van hul rotasie-stelsel wat in plek gestel is om al die spelers wedstrydfiks te hou.
“Ons het nog altyd daar bo gesukkel, met veral die lugdruk wat sake vir ons bemoeilik het,” het Pienaar gesê.
“Ons het egter hul lynstane as ’n swakpunt geïdentifiseer en sal fokus om hulle in dié faset uit te buit,” het hy gesê en bygevoeg dat dit die hemelbesem Eksteen se taak sal wees om omgekeerde besit te verseker.
“Ons is nie so seer bekommerd oor enige individu nie, maar dit is belangrik dat ons as span goed moet verdedig.
“Die Cheetahs doen dinge baie vinniger as ander spanne en ons verdediging het in die verlede nie hul kenmerkende hardlooprugby-spel doeltreffend gekeer nie.”
Die wedstryd begin môreaand om 18:00 op Vodacom Park in Bloemfontein.
Die span is Antonius Verhoeven, Rayno Benjamin, Piet van Zyl, Jacques Benjamin, Jonghikhaya Nokwe, Solly Goosen, Neil Papier, Henley du Plessis, Maurice Reid, Conrad Burke (k), Henk Eksteen, David de Villiers, Tommy Dixon, Gustav Rademeyer en Jaco Engels.
More
News
|