Wellington begin weer goed
2006-01-12
DIE eerste krieketspan van Wellington Krieketklub het die nuwe jaar op ’n drafstap begin toe hulle Saterdag redelik maklik met Paarl-Oos Krieketklub afgereken het.
Wellington het die wedstryd wat op die Allandale krieketveld beslis is, met ses paaltjies gewen.
Paarl-Oos word eerste ingestuur om te kolf in bewolkte weerstoestande.
Die tuisspan slaag daarin om ’n gesonde basis te lê en het ná 48 boulbeurte 121/2 op die telbord.
Die wiele het egter heeltemal afgeval toe daar besluit word om die skouers oop te maak.
Paarl-Oos kon net 66 lopies byvoeg in die laaste 12 beurte en in die proses sy orige agt paaltjies verloor.
Davids Stevens (47 4x5) was die voorste lopiemaker, terwyl die waagstuk om Waylain September (39 4x6) saam met Stevens te laat open ook vrugte afgewerp het.
Bruce Miller (24 4x3, 6x1) het ook ’n paar vinnige lopies gemoker. Wellington se boulaanval is deur die draaibalbouler, Dawie Malan (5/42 in 11bb), gelei.
Hy is goed ondersteun deur Henco Bornman (3/44 na 15bb) en ’n ekonomiese sessie deur Riaan Jephtha (1/26 in 15bb, 8 leeg). In hul kolfvertoning was dit weer Malan wat die Wellingtonners se uitblinker was.
Sy 76 lopies het 10 grenshoue en ’n ses ingesluit.
Warren Groeneveld (68nun 4x7, 6x1) en Christo Ritter (25nun 4x2, 6x1) het ook gehelp dat die besoekers die teiken in die 55ste beurt kon behaal.
Zynodien Fredericks (2/34 in 13bb) was die Paarliete se beste bouler. Op Wellington het Paarl-Oos se tweede span egter ’n allemintige telling van 370/9 aangeteken.
Bykans al die kolwers het ’n stuiwer in die beurs gegooi, met Godfrey Linee (85nun 4x7, 6x8), Garth Lewis (73 4x11), Randall George (44 4x3, 6x1), Neels Engelbrecht (43 4x3, 6x2), Werner Erasmus (34 4x2, 6x4), Gerald Cupido (23 4x2, 6x1), Shaun Cuttings (22 4x2) en Bjorgen Hollenbach (22 4x2) wat lopies kry. Anele Nanase (4/47 na 15bb) en Phil Adams (3/85 na 13bb) het die beste vir die tuisspan geboul.
Wellington kon slegs 155 aanteken voordat hul laaste paaltjie geval het.
Louis Duvenage (26nun 4x4), Nanase (24 4x2), Stefan Theron (23 4x2) en Adams (22 4x3) het lopies gekry.
Paarl-Oos se beste boulers was Justin Watts (3/25 na 9bb), Gerald Cupido (2/18 na 15bb) en Dennis November (2/35 na 12bb).
Saterdag speel Paarl-Oos I (weg), II en III (albei tuis) teen Brackenfell. Wellington I (tuis) en II (weg) speel teen Malmesbury.
More
News
|