Thomas wen weer 25 myl
2006-01-12
SLIM taktiek deur die Paarliet Garth Thomas het hom op Tweede Kersdag die 25 Myl-wedren laat wen tydens die tradisionele Gesinsdag-byeenkoms op die Faurestraat Stadion.
Dit is die derde keer dat Thomas die Minnaar-beker omhoog kon lig nadat hy in 2001 en 2003 ook dié prestasie behaal het.
Thomas het die wedren, wat top jaers soos Dean Edwards, Nolan Hoffman, Réniell Mathyssen en Jacques Fullard ingesluit het, reeds vroeg beklink toe hy saam met Ashley Kulsen (Rhadsport), Jaco Wasserfal (Edu-loan Maties), Crispin Fourie, Bertram Siebrits (Rhadsport) en Martin Malan (Paarl Fietsryklub) ná slegs 10 rondtes weggebreek het.
Die groep ryers het goed saamgewerk en het uiteindelik daarin geslaag om ’n rondte voorsprong op die hoofbondel op te bou.
Hierna was dit veral Fullard (Minolta) wat hard probeer het om die voorste ryers se voorsprong te laat krimp, maar hy is telkens deur Thomas ingejaag. Die prys vir die mees aggressiewe ryer is dan ook aan Thomas toegeken.
Daar was so byna groot drama in die naelrit na die eindstreep toe Malan se voet by die 200m-merk uit sy pedaal geglip het en Thomas vinnig moes swenk om ’n botsing te vermy.
Die nasionale ryer het egter genoeg krag oorgehand om Kulsen oor die laaste 150m in te jaag en so vir ’n derde keer die 25 Myl-item te wen.
Kulsen was tweede oor die wenstreep, gevolg deur Malan van die Paarl Fietsryklub. Siebrits het in die vierde plek geëindig en was ook die eerste junior om die wedren te voltooi.
Drie van die eerste vyf plekke is deur ryers van die Rhadsport-fietsryklub beklee.
“Ek kon dit nie glo toe ons so vroeg van die bondel weggekom het nie. Daarna was dit redelik maklik om die wedren te beheer,” het Thomas gesê, wat ook in die voorlopige SA fietsry-span ingesluit is wat in Maart vanjaar in Australië aan die Statebond Spele gaan deelneem.
Volgens Thomas, wat sy Rhadsport-kleure vir dié van die professionele span van CVT/CSC verruil het, gaan hy aan die meeste van die groot pad- en baanbyeenkomste probeer deelneem ter voorbereiding op sy moontlik insluiting in die SA-span.
“My vorm is nog nie uitstekend nie, maar ek is besig om daaraan te werk en behoort op my piek te wees vir die Statebond Spele.”
Nolan Hoffman het skitterend gejaag in die 1 Myl Uitnodigingswedren toe hy ’n oorwinning voor die neus van die gunsteling, Dean Edwards, weggeraap het.
Hoffman het oor die laaste 150m sy brute krag gebruik om Edwards en Garth Thomas te troef.
Edwards het weer skitterend gejaag in die 400m voorgee-, punte- en uitval-wedren en aldrie kere eerste oor die wenstreep geblits. Hy is ook aangewys as die beste ryer vir die dag.
More
News
|