Suidoosfees warrel
2006-01-12
DIE winde wat die afgelope tyd oor die Moederstad waai is glo ‘n briesie teen die warreling wat die Suidoosterfees hierdie naweek Kaapstad gaan binneblaas.
So meen die organiseerders van die Suidoosterfees, ‘n lekkerte met opvoerings en sang van Vrydag tot Sondag in die Kunstekaap Teaterkompleks.
Die aksent van die fees val sterk op erfenis, en veral die geskiedenis van slawerny geniet aandag.
Corlia Fourie se drama Moeders en Dogters is die fees se vlagskip-produksie. Juanita Swanepoel behartig die regie, en die spelers is Susanne Beyers, Martelize Kolver, Elizabeth de Villiers, Leanne Dreyer en Christy-Ann Julies.
‘n Nuwe feeselement is ‘n Xhosa-toneelstuk deur Madoda Gcwadi (ook die regisseur), getitel Khanya Khayelitsha! (Glans, Khayelitsha!), wat ook deur Engelse en Afrikaanse elektroniese bo-skrifte gevolg sal kan word.
Dit behandel kwessies soos verstedeliking, godsdiensverskille, homoseksualiteit en inisiasie-rituele.
‘n Drama wat vir die Suidoosterfees geskryf is, is Braam van der Vyver se Sarah, oor die historiese figuur Sarah Baartman. Anthony Wilson behartig die regie. Ander toneelaanbiedings is Boesman en Lena deur Athol Fugard, met Ivan D Lucas, Vinette Ebrahim en Fiks Mahola, en regie deur Claire Stopford; Adam Small se Krismis van Map Jacobs, opgevoer deur die Worcesterse Dramavereniging onder regie van Lloyd Davids; en Zollie deur Nico Luwes, met studente van die departement drama en teaterkuns van die Universiteit van die Vrystaat, en regie deur Gerben Kamper.
Die skerpskertsers Stuart Taylor en Kurt Schoonraad sal onderskeidelik in To Bellville and Beyond, en Kurt Schoonraad Live te sien wees.
Op die musiekfront sal die sangeres Judith Sephuma ‘n jazz-uitvoering gee, terwyl ‘n verskeidenheid van jazz-musici ook in die program You Jazz sal optree.
Die Huisgenoot Kaapse Jol is ‘n egte skouspel met Kunstenaars soos Kurt Darren, Dozi, Taliep Pietersen, Bianca le Grange en Brasse vannie Kaap. Die seremoniemeesters is Shaleen-Surtie Richards (Egoli) en George van 7de Laan.
Mr Fat van laasgenoemde groep gaan ook die program Woelag in Afrikaans lei, waarin skoolkinders met dans, sang, voordrag of toneelspel ‘n geldjie vir hulself en hul skool kan verdien.
Die La Rosa-geselskap vir Spaanse Dansteater en die Free Flight-dansgeselskap sal te sien wees in Bloedbruilof, gebaseer op die toneelstuk deur Frederico Garcia Lorca wat vroeër vanjaar op die KKNK opgevoer is. Geoffrey Hyland is die regisseur.
Kaartjies vir feesproduksies kan bespreek word by Computicket of tel 421-7695.
More
News
|