Feeskunstenaar kry wind van voor
2006-01-12
KUNSTENAAR Selwin Pekeur het verlede jaar begin om vir Saartjie Baartman elegant uit te vat vir die Suidoosterfees, maar nou kan sy nie die partytjie bywoon nie.
Die vlieg in die salf is die beroerte wat Selwin uit die bloute in Oktober in die hospitaal laat beland het, met sy regterkant verlam.
En al is dié begaafde Paarlse kunstenaar nou weer goed op die been, sal die laaste afronding aan die jongvrou Baartman nie na sy sin betyds aangebring kan word nie.
Die siekte was vir Selwin ’n sware slag en iets wat hy gesukkel het om te verwerk. Hy sal nie ’n skets of ’n skildery uit sy ateljee laat gaan wat nie een honderd persent perfek is nie.
Toe hy as feeskunstenaar van die Suidoosterfees gekies is, was dit ’n droom wat bewaarheid geword het. Al hang sy werke oral oor die wêreld, was dit sy eerste solo-uitstalling.
Hy het dadelik aan die werk gespring met ’n reuse skildery oor die vreugdes op die Suid-Afrikaanse werf ná die demokratiese verkiesing in 1994.
Die tweede groot werk was ’n lewensgrote Saartjie Baartman, elegant geklee in romp, baadjie en hoëhakskoene, met engel vlerkies en ’n stralekrans om haar kop.
“Ek is veral hartseer oor hierdie werk. Sy sou vir die eerste keer met waardigheid uitgebeeld word, ’n Suid-Afrikaanse Venus wat uit ’n perlemoenskulp rys.
“Toe ek besluit het om haar te skets, het ek nog nie eens geweet dat daar ’n opvoering oor Saartjie by die Suidoosterfees sal wees nie.” Selwin is so kleurvol soos sy kunswerke, en met net soveel menseliefde en humor soos die kryt en kwashale op sy doeke uitbeeld.
By sy pers-en-blou woning in New Orleans staan daar nooit werke rond nie. Soos hy een afrond, so word dit opgeraap.
“Dis nie maklik nie. Vir ’n kunstenaar om stil te sit omdat sy brein en sy tekenhand nie wil saamwerk nie, is frustrerend.”
Dis nou byna drie maande later en al oefen Selwin elke dag, wil die pastelkryt nog nie mooi tussen die lyne bly nie en kan hy sy hand nog nie met die fyner detail vertrou nie.
Partykeer raak hy moedeloos, maar dan kyk hy weer vorentoe. “Handelaars en mense wat werke van my besit, het my wonderlik ondersteun en hul werke beskikbaar gestel vir die fees.
“Mense wat dit hier sien hang het, is baie beïndruk,” het Selwin gister gesê waar hy die afronding in die Kunstekaap gedoen het.
“Dis baie jammer ek het nie nuwe werke hier wat ek sal kan verkoop nie. En ek wou so graag vir Saartjie Baartman en Mandela met sy landskinders kon ten toon stel.”
Selwin stal van môre tot Sondag uit in die boonste portaal van die skouburg.
Die uitstalling is bedags van 10:00 tot 22:00 oop.
* A Paarl artist has been hit by a stroke before his first solo exhibition.
More
News
|