Belowende Paarliet verongeluk
2006-01-12
DIE blink loopbaan van ’n jong Paarliet is in ’n oogwink beëindig toe hy op slag dood is in ’n gru-ongeluk.
Michael Gobregts (27) was Saterdag na Johannesburg onderweg waar hy Maandag ’n belowende loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester by Ernst & Young sou begin het.
Die tragiese ongeluk het op die berugte ‘pad van die dood’, die N1 naby Leeugamka, plaasgevind toe ’n aankomende bakkie se wiel gebars het.
Die bestuurder het beheer verloor en van voor in Michael se motor ingeploeg.
Michael is op slag dood, asook vyf insittendes van die bakkie. Nog ’n persoon verkeer tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.
Michael, 'n oud-Gimmie, het op Stellenbosch studeer.
Hy het twee maande gelede teruggekeer uit Amerika waar hy vir nege maande ook vir Ernst & Young gewerk het.
Michael se ma was ten tyde van die ongeluk onderweg na Hawaii om ’n kongres by te woon. Sy het eers met haar aankoms in Maui die tyding ontvang van sy dood.
“Michael was een van die mees optimistiese mense wat ek geken het.
Hy was altyd joviaal en ’n ware sonskynmens," het sy broer Quintin gesê.
"Sy hele lewe het oop voor hom gelê.”
Michael word oorleef deur sy ouers, André en Nina, en broers Quintin (24) en André (21).
Die begrafnis vind Saterdag vanuit die Toringkerk plaas 12:30.
More
News
|