Groot vonds
2006-01-12
Lise Beyers
DIE polisie het ’n laat Kersgeskenk ontvang toe hulle kort na Kersdag beslag gelê het op ’n groot vrag dagga.
Inspekteurs Francois Hugo en Elroy Julies van die Paarl honde-eenheid het op 27 Desember ’n roetine-ondersoek gedoen van ’n oop terrein by New Rest, Wellington.
Insp Hugo se skaaphond, Sussie, het snuf in die neus gekry en vir hulle na ’n huis in Msobomvustraat gelei.
Terwyl die polisie gewag het op ’n lasbrief om die huis te deursoek, het die eienaar in ’n blou Ford bakkie gespring en weggejaag.
Toe die lasbrief bekom is, is die huis deursoek, sonder dat enige verdagte items gevind is.
Die bakkie wat vanaf die toneel weggejaag het, is kort daarna in Dietmannstraat gevind, en dit is toé dat die polisie op hul vonds afgekom het.
Met die hulp van Sussie is daar vasgestel dat ’n groot hoeveelheid dagga in die ses panele agter op die bakkie versteek is.
Na ure se gesukkel is meer as 22kg dagga uit die panele gegrawe, met ’n straatwaarde van R23 000.
Die eienaar van die voertuig, Gcinisizwe Poyana, is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
* Police found dagga valued at R23 000 in a vehicle in Wellington.
More
News
|