Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Brandstigters gesoek

Brandstigters gesoek
 
2006-01-12

Lise Beyers

ONDERSOEKERS is op die spoor van brandstigters wat verantwoordelik was vir die brande wat oor die Kersseisoen verwoesting gesaai het in Drakenstein.

Die jaar het op ’n lae noot begin vir plaaslike brandbestryders, wat sedert Kersdag hulle hande vol gehad het met die talle brande wat buite beheer in dié gebied gewoed het.

Dinsdag het ’n brand op Paarlberg suid van die Taalmonument uitgebreek.

Ook hier word vermoed dat die brand deur brandstigting veroorsaak is.

Oor die Kerstyd is meer as 20 000 hektaar se fynbos en plantasies verwoes terwyl die koste van die brandbestryding miljoene rande beloop.

Hier en daar het wingerd en vrugteboorde ook deurgeloop onder die vlamme.

Die eerste brand, wat in Franschhoek-Noord ontstaan het, het later na Dutoitskloof versprei. Daar is ook gespook om te keer dat ’n tweede brand wat in Robertsvallei onstaan het, nie oorloop na die Jonkershoek-natuurreservaat en Simonsberg nie.

’n Klag van brandstigting word tans deur Cape Nature ondersoek nadat vullis op ’n plaas in Robertsvallei verbrand is terwyl sulke brande in die somer verbode is.

Sowat 150 brandbestryders van die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit en Cape Nature, asook vrywilligers, het deurnag gewerk om die wegholbrande te probeer tem.

Vyf helikopters is ook ingespan om die vlamme teen die hoë berg-hellings te probeer blus.

Die Klein Drakensteinberge bo Dutoitskloof is verlede Maandagaand in ’n liggieslandskap omskep toe sterk winde die brand teen die westelike hellings van die berg uitgedryf het.

Talle nuuskieriges het naby die tolhek stilgehou om na dié skouspel te kyk.

Die pas is vir sowat 12 ure gesluit terwyl die brandweerdienste en polisie gespook het om die situasie onder beheer te bring.

’n Gesin moes van dié pad gered word toe hulle voertuig onklaar geraak het. Die Cupido-gesin van Macassar het verskrik gekyk hoe die vlamme al hoe nader aan hulle kruip, voordat hulle voertuig deur die pas na veiligheid gesleep is.

Die brand het talle plase aan die hange van Dutoitskloof bedreig, insluitend dié van oud-president FW de Klerk, Wildepaardejacht.

“Dit is die tweede keer in ses jaar dat ons moes keer dat die vlamme in ons wingerd beland,” het ’n moeë De Klerk gesê.

“Dit was ’n vreesaanjaende nag vir ons. Ons het egter geweier om die plaas te ontruim, aangesien ons wou help waar ons kon.”

Pieter-Willem Basson van die plaas Salem, is ’n stadium deur vlamme oorval en moes in ’n plaasdam spring om te oorleef.

Sy pa, stadsraadslid JT Basson, het gesê dat hulle almal vlamme doodgeslaan het om te keer dat die wingerd beskadig word.

“Toe ek weer kyk na waar Pieter-Willem die brand bestry het, het ek gesien dat die gebied toe onder die vlamme was.

“Ons is inderhaas soontoe, en nadat ons die vlamme naby die dam geblus het, kry ons vir hom in die water met sy hemp oor sy kop,” het ’n verligte JT gesê.

Rossouw Malherbe se plaas Dekkersvlei het die ergste deurgeloop, met drie hektaar olyfbome en een hektaar wingerd wat verwoes is.

Malherbe het gesê dat duisende rande se skade aangerig is en dat dit jare sal neem om te herstel.

Volgens Deon Rossouw van Cape Nature was talle spesies bergfynbos aan die herstel van die 1999 brand en nou word hul ontwikkelende saad verwoes.

“Die impak wat dit op verskeie plantsoorte kan hê is dat hulle totaal uitgewis kan word, want daar sal nie meer saad wees nie,” het Deon gesê.

“Die waarde van ’n denneboom wat afbrand is ongeveer R750, maar die waarde van die fynbos wat verwoes is kan nie gereken word nie.”

Cape Nature het mense gemaan om uiters versigtig te wees met die maak van vure in die somersmaande. Vure kan slegs in beheerde gebiede gemaak word en die gene wat nie die wette gehoorsaam nie sal vervolg word.

* Veld fires over the holiday were probably caused by human negligence.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za