Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Daar's 'n klankie in die gat

Daar's 'n klankie in die gat
 
2006-01-19


DIE Drakenstein munisipale diensafdeling, wat moet sorg dat riool uit septiese tenks buite die dorpsgebied getrek word, het ’n besliste klankie.

Van November-maand af sit bewoners met tenks wat uitborrel, oorloop, en ’n reuk afgee wat geen parfuum kan verdoesel nie.

Met die inskakeling van die Distriksraad en die munisipale rade vier jaar gelede, het Drakenstein net die agterspeen gekry om aan te suig.

Terwyl Stellenbosch (Wynland) ’n vloot riool-vragmotors toegestaan is, sit die Paarl-omgewing (Drakenstein) met slegs twee “nagwaens” (eintlik drie, maar die een is van meet af aan in die werkwinkel ná ’n ongeluk, en dus buite aksie).

Verlede jaar het twee van die vragmotorbestuurders ook kort na mekaar gesterf.

Boonop het Hermon, Gouda en Saron en kliënte soos die Antoniesvlei ontspanningsoord teen Bainskloof ook bygekom, waar ses tenks oor die vakansietyd weekliks uitgepomp moet word.

Die natuur wag nie vir motorwerktuigkundiges nie en met net een vragmotor word die druk al hoe groter. Die septiese tenks word eenvoudig voller en begin oorloop.

En dit is nie olie wat uit die grond borrel nie. Die stank word onuithoudbaar, om van die gesondheidskwessie nie eens te praat nie.

Oproepe na die munisipale ingenieursafdeling word hoflik beantwoord, en afgesluit met die belofte dat die man met die swaar vragmotor, groot tenk en lang, dik pype, eersdaags sal opdaag.

Week na week het menige huisbewoner die noodnommer geskakel. Later is verduidelikings vir die oponthoud geëis.

Een vragmotor is stukkend. Een bestuurder is met vakansie. Die waglys is 30 diep.

Moenie kla nie, ons probeer ons bes. Dis juis omdat ons besef het dat ons nie ons verpligtinge kan nakom nie, dat die tarief vir riool vir buiteverbruikers geskrap is.

Nou word die diens op aanvraag gelewer, en teen ’n vasgestelde tarief vir die uitpomp, het ’n munisipale amptenaar gesê.

Daar is darem lig aan die einde van die donker, onwelriekende tonnel.
Sedert Maandag is daar twee voertuie voltyds in werking.

Die Munisipaliteit hoop om eersdaags nog ’n vragmotor in gebruik te neem en twee vakante poste te vul om sodoende die las te verlig.

Intussen kan eienaars van oorvol ablusies net hoop vir ’n wind wat weg van hul huise af waai.

* Ratepayers with septic tanks that need to be emptied by the Municipality, are in dire straits while council workers struggle to work away the backlog.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za