Plek vir 1000 by nuwe skool
2006-01-19
DIE nuwe Groenheuwel Primêre Skool in die Paarl is slaggereed om die skooljaar te pak, het waarnemende prinsipaal Ivan Samaai gesê toe die skool vandeesweek geopen het.
“Ons het alreeds oor die 800 leerlinge by die skool ingeskryf, en is fluks op pad na die duisend-merk (die skool het plek vir 1120 kinders).
“Sedert die laaste kwartaal verlede jaar het ons voete nie grond geraak nie, soos wat ons gewerk het om alles in gereedheid te kry voordat die leerlinge opgedaag het.”
Die leerkragte is hoofsaaklik gesekondeer vanaf Daljosafat Primêr, Dalweide Primêr, Imboniselo en Langabuya Primêre skole in Mbekweni. Adjunk-prinsipaal Chris Jacobs was voorheen by Paulus Joubert Primêr.
Volgens Samaai is die skool die eerste een in die Weskus-Wynlandstreek, waar onderrig gegee word in Afrikaans, Engels en Xhosa.
Die grootste inskrywing is die Afrikaanse komponent van ongeveer 350 leerlinge, wat hoofsaaklik van die oorvol Dalweide en Daljosafat primêre skole kom.
Die Xhosa-kinders kom hoofsaaklik vanaf skole in Mbekweni, maar woon in die Groenheuwel-gebied en hoef nou nie meer so ver te stap nie.
Van grade een tot drie is daar reeds 15 klasse geregistreer. Met die koppetelling vir die eerste tien skooldae, sal daar bepaal word presies hoeveel intermediêre en senior klasse daar sal wees, het Samaai gesê.
* The new Groenheuwel Primary School with 1000 pupils has alleviated the local shortage of classrooms.
More
News
|