Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Toe-oë koop kan duur word

Toe-oë koop kan duur word
 
2006-01-19


ONGESIENS bakkies oor die telefoon koop, het ’n boer van Wellington oop-oë in ’n slenterspul laat loop.

Was dit nie vir die vernuf van ’n privaatspeurder nie, het die bedrieër ’n lekker Kersgeskenk gehad, en die boer, Jan Louw van
Eikeboom op pad na Hermon, het droëbek bly sit.

Louw het die Saterdag op ’n dagblad-advertensie vir ’n Toyota en ’n Isuzu gereageer en die voertuie daar en dan vir R136 000 telefonies gekoop.

Die “verkoper” het hom voorgestel as ’n bankamptenaar wat die bakkies van ’n vriend wat teruggeneem is deur die bank, namens hom sou verkoop, om ’n bankveiling te voorkom. Louw moes die geld deponeer en die inbetalingstrokie deurfaks.

Terwyl Louw met die man oor die telefoon gepraat het, het hy gehoor hoe die sogenaamde bankamptenaar glo met ’n bankbestuurder in die agtergrond sou onderhandel om die transaksie te magtig.

Daar is gereël dat die papierwerk en oorhandiging van die voertuie die middag sou plaasvind.

Teen laatmiddag was die verkoper se selfoon afgeskakel en geen bakkies het die plaaswerf binnegekom nie.

Die onrustige koper het ’n vriend gepor om uit Worcester op die advertensie te reageer.

Sy vermoede is bevestig toe die vriend verneem dat dieselfde bakkies steeds beskikbaar was.

Louw het die saak by die Riebeeck-Wes polisiestasie aangemeld.
Die beamptes wou nie ’n amptelike bedrogklagte registreer nie, aangesien “geen verlies” nog plaasgevind het nie.

Dis toe dat Louw baie benoud die Wellingtonse privaatspeurder Callie Rischbieter genader het.

“Ek kan nie glo dat ek so dom kon wees nie,” het Louw gesê.

Rischbieter kon bevestig dat die faksnommer aan ’n posagentskap in Brackenfell behoort, en dié bankrekening waarin die geld gedeponeer is, die was van ’n 11-jarige meisie van Gansbaai.

’n Dringende hofbevel is bekom om die geld te beveilig terwyl daar vasgestel is dat die selfoonnommer aan die meisie se oom behoort.

Die verdagte is verhoorafwagtend in die Goodwood gevangenis. Hy is verlede jaar skuldig bevind as medepligtige in ’n moordsaak.

Die suster het bevestig dat haar broer die advertensie geplaas het vir goed wat nie bestaan nie, en die oproepe hanteer uit die tronk.

Tydens die ondersoek is ook gevind dat ander mense ook geld in die rekening gedeponeer het, het Rischbieter gesê.

“Hulle was baie verbaas, dog verlig, toe die ware toedrag aan hulle verduidelik is en hul geld beveilig is.”

* A Wellington farmer nearly lost R136 000 to a fraudster, already in jail on a charge of murder.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za