Dief loop rieme styf
2005-03-31
Malané Bosman
’n HANDSAK wat uit ’n plaasbakkie in Simondium verdwyn het, was voorverlede week die laaste strooi vir Karel Swartz, ’n vermeende dief wat glo inwoners van die omgewing grys hare gee.
Inspekteurs Jacques Lume en Wessel Fourie van die Paarlse honde-eenheid was binne minute op die werf toe die noodoproep die Donderdagoggend 12:00 ontvang is.
Die handsak was een oomblik nog in die bakkie, en die volgende skoonveld.
“Wees rustig,” het die ervare inspekteurs gepaai. “Ons kry sommer gou die skuldige - en as ons vinnig genoeg maak, jou goed ook.”
’n Patrollievoertuig het opgedaag en terwyl polisiebeamptes in uniform die verklaring geneem het, het die hondemanne begin jag. Binne ’n uur het hulle geweet op wie se spoor hulle moet draf.
Die verdagte, ’n 21-jarige werklose man, was eers by sy ma se huis op die buurplaas Kunnenburg, toe by sy ouma se huis op ’n ander buurplaas, by ’n smokkelhuis in Klapmuts en toe op pad na Franschhoek.
Vyfuur die middag het insp Lume en kollega Sandile Xava die verdagte terug op Kunnenburg ingewag, en platgeduik.
Die selfoon en die meeste van die kontant wat gesteel is, was in sy sakke - ook by hom was mandrax tablette en ’n fiets wat met die gesteelde geld aangekoop is.
Ná ondervraging het die honde-geleiers die handsak, met die beursie sonder kontant, maar met al die bank- en identiteitskaarte, hoog in ’n boom in ’n suurlemoenboord opgespoor.
Speur-konst Maria Fouché het intussen begin ondersoek instel en vasgestel dat Swartz in Groot Drakenstein op ’n aanklag van roof gesoek word.
Daar was ook ’n lasbrief vir sy inhegtenisname vir diefstal in Franschhoek.
Hy is kort voor die voorval verlede week uit die gevangenis vrygelaat waar hy ’n vonnis vir diefstal uitgedien het.
Swartz bly in aanhouding tot ’n volgende verskyning op 7 April vir die handsakdiefstal en die besit van dwelms.
* A thief met his match in Simondium.
More
News
|