Afrigting werp vrugte af vir middelafstandatlete
2006-01-19
DIE Bolandse Middelafstand-oefengroep het die naweek by die Daljosafat Stadion in Paarl saamgetrek in voorbereiding vir die komende atletiekseisoen.
Die oefenkamp was gehou in samewerking met die Suid-Afrikaanse Wyn Industrie Trust (SAWIT). SAWIT finansier Boland Atletiek se program vir landelike ontwikkeling.
Die 52 atlete wat hoofsaaklik bestaan uit landelike atlete en sewe afrigters is touwys gemaak deur Ian Harries, een van die beste middelafstand-afrigters in die wêreld.
Tydens die oefenkamp is die atlete deur dr Terrence Jones, lid van die Boland Atletiek Sentrum van Uitnemendheid se mediese span, geëvalueer om vas te stel of hul fisies gereed is vir die 2006 seisoen.
Deel van die oefenkamp was die middelafstand-atlete se deelname aan die Maties Uitnodigingsbyeenkoms op Coetzenburg Vrydagaand.
So is vasgestel hoeveel vordering is gemaak sedert Harries se vorige besoek aan die Boland in November.
Verskeie van die atlete het dan ook skitterend presteer. Dwayne Mouries wat uit die Grabouwdistrik kom en slegs 17 jaar oud is, het vir ’n groot verrassing gesorg toe hy in ’n senior wedloop die 5000m gewen het in ’n nuwe Boland Junior rekord tyd van 14:25.45.
Die rekord, wat sedert 1999 agter Jan Owies se naam gestaan het, is met meer as 54 sekondes verpletter.
Mouries het in die proses vir Piet Jacobs geklop wat verlede jaar in die finaal was by die Wêreld Studentekampioenskappe in Beijing.
In dieselfde wedloop was Henrico Rooi, nog ’n junior atleet van die Paarl, derde, Rodger Davids van Robertson vierde, Rodney Davids, ook van Robertson vyfde en nog ’n Paarliet Godwell Blaauw sesde.
Wat besonders was van die wedloop, was dat al vyf genoemde atlete se tye vinniger was as die huidige Boland Junior Rekord.
Die volgende groot byeenkoms in die Boland, die derde been van die ASA Kampioen Uitdaagreeks, vind weer op Coetzenburg plaas op Vrydag 3 Februarie.
Verskeie van Suid-Afrika se beste atlete sal tydens dié byeenkoms deelneem ter voorbereiding vir die Statebond Spele.
More
News
|