Kavaliers toets hul vorm
2006-01-19
DIE afrigtingspan van die Boland Kavaliers sal ná Saterdag se oefenwedstryd ’n goeie idee hê van die span wat hy vir die komende Vodacom-bekerkompetisie in die veld wil stoot.
Twee spanne van die Boland Kavaliers speel Saterdag op Bredasdorp in twee opwarmingswedstryde teen hul eweknieë van die SWD.
Die span sal vir die duur van die kompetisie gebrei word deur Deon Davids wat die pos van hoofafrigter by Hawies Fourie oorgeneem het.
Fourie sal as hulp-agterlynafrigter by die Stormers betrokke sal wees.
Davids sal die 40 spelers tot sy beskikking deeglik onder oë wil kry in ’n wedstryd-opset en die beste moontlike kombinasies bymekaar wil kry.
Die Kavaliers sal weer deur die kanniedood, Conrad Burke, aangevoer word nadat dié flank/haker van sy knie-operasie herstel het.
Die stut, Tommy Dixon, is eers by die Stormers se oefengroep ingesluit nadat Neil Fullard ’n besering opgedoen het. Sy dienste word egter nie meer deur dié Super 14-span benodig nie en hy is weer terug by die Boland.
Die grootste swakplekke in die Kavaliers se mondering sal sekerlik volgende Saterdag uitgelig word wanneer die twee Boland-spanne teen die WP te staan kom.
Die wedstryde wat om 15:00 en 16:30 afskop, sal die gees op die Boland Stadion help bou voordat die Stormers en die Southern Spears mekaar om 18:00 in hul opwarmingswedstryd die stryd sal aansê.
Besonderhede rakende kaartjieverkope sal volgende week beskikbaar wees.
Oormôre se wedstryde begin om 15:00 en 17:00 op Bredasdorp se hoofrugbyveld.
More
News
|