Bejaarde egpaar oorleef aanval op plaas
2005-03-31
Malané Bosman
WELLINGTON staan geskok. Nie eens die onmiddellike arrestasie van die vermeende moordenaars van twee vroue van die dorp vanjaar, kon verhoed dat ’n bejaarde egpaar verlede week wreed in hul plaashuis aangerand word nie.
Ook húlle aanvallers was binne minute agter tralies.
Die bejaarde Rossouw en Carol Petersen, wyd bekend vir die kwekery op hul Voor-Groenbergplaas Fruit Grove, is Donderdag oorrompel deur gewapende rowers.
’n Polisieman het opgemerk: “Dis genade. Die rowers het gedink hulle het baie tyd, met die oom en tannie vasgebind. As hulle nie geskrik het vir die alarm en gevlug het nie, dan was hulle waarskynlik dood.”
Die mans het in ’n wit Nissan Skyline aangekom tydens die middagete-uur, toe daar nie werkers op die werf was nie.
Een van die mans het by die huis aangeklop en oor plante navraag gedoen.
Saam met ’n medepligtige het hy vir Carol in die gang oorrompel en met dik kleefband vasgebind terwyl hy met ’n pistool teen haar kop gedreig het om te skiet.
Sy is in ’n bondeltjie op die vloer gelaat.
Haar man het op ’n rusbank gedut toe die rowers hom met die dood gedreig het. Terwyl hulle geld geëis het, het Rossouw verwoed teruggeveg en is hy met die pistool teen die kop geslaan en in die niere en milt geboks.
Met bloed wat uit wonde aan sy kop en arms gestroom het, het die bejaarde man gestoei om die alarmknoppie by te kom.
Die aanvallers het sy lyfband afgeruk en hom daarmee probeer vasmaak voordat ook hy met kleefband vasgebind en sy mond toegewoel is.
’n Rower het die telefoonkabel langs die bed uitgeruk en so die alarm geaktiveer.
“Toe die alarm afgaan, het daar skielik drie mans uit die huis gestorm en in die motor gespring. Die bestuurder, wat die heeltyd in die luierende motor gesit het, het weggejaag,” het ’n geskokte besoeker later gesê.
’n Kordon van polisievoertuie is onmiddellik om Wellington, Mbekweni en die Paarl getrek.
Kort nadat inligting ontvang is dat die vlugtende mans motors geruil het, het die polisie ’n verdagte rooi Mazda opgemerk.
Die motor is in New Orleans van die pad getrek en die ses insittendes in hegtenis geneem. ’n Beretta pistool, vermoedelik die aanvalswapen, is in die motor ontdek.
Minute later is die Nissan met vyf insittendes in Mbekweni van die pad getrek. Ook hulle is in hegtenis geneem.
Rossouw se pistool, sy selfoon en horlosie is nog soek. Die nege verdagtes van Mbekweni en twee van Vanwyksvlei, almal tussen 20 en 30 jaar oud en werkloos, bly in aanhouding.
’n Polisie-offisier het die roof beskryf as “’n goedbeplande rooftog.” Ondersoek word ingestel na die vermoede dat die rowers ook ’n ander plaas in die omgewing sou geteiken het.
Die vermeende leier van die roofbende was op borgtog op 'n aanklag van die onwettige besit van 'n vuurwapen. Van die ander verdagtes het al met die gereg gebots in diefstal- en aanrandingsake.
Van die mans het glo eers met vals name probeer om die polisie-rekenaar met gelyste oortreders, te fnuik.
* An elderly couple has been attacked on a farm outside Wellington.
More
News
|