Hier kom 'n fees: Wingerdfees op 3 en 4 Maart
2006-01-26
REëLINGS vir die Paarl Wingerdfees op 3 en 4 Februarie, vorder fluks. Volgens die feesvoorsitter, Francois Smit, kan Paarliete ’n groot gemeenskapsfees verwag. “Ons wil Afrikaans, wat sy ontstaan hier gehad het, vier en bevorder. “Daar sal ook klem gelê word op kultuur, met verskeie bekende kunstenaars wat ’n draai hier gaan maak.” Onder die kunstenaars wat sal optree, is Dozi, Arno Jordaan, die Campbells, Jesse Jordan Band, Christo & Cobus, Thys die Bosveldklong, Cheree, Shine 4, die Jakkie Louw Band, Akkedis en Skallabrak. Drie bekende name van die Idols-kompetisie kom ook 'n draai maak: Anke, Gift en Bianca. Die doel met die fees is sportontwikkeling, asook gemeenskap- en kultuursake, waarvoor die Paarl Lionsklub ook betrek sal word. ’n Gedeelte van Faurestraat sal gesluit word vir dié pretgeleentheid, met kosstalletjies en ’n kunsmark in die park en straat. Wynlandgoedere sal stalletjies in die stadion hê. Daar sal ook ’n biertent en kroeg wees en ’n restaurant waar mense rustig kan kuier. Die fees sal die Vrydag van 14:00 tot 23:00 oop wees en die Saterdag van 10:00 tot 23:30. Smit het dit beklemtoon dat hulle ’n gemeenskapsfees beplan: “Ek glo die fees se sukses sal ook bepaal word deur ons toegangsbeheer. “Ons gaan getalle beheer, sodat daar nie ’n vertrapping sal wees nie. “Kinders sal identifikasiebandjies dra en geen drank sal aan iemand onder 18 jaar verkoop word nie. “Ons onderhandel ook met gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappye wat sal verseker dat enigeen wat hom aan wangedrag skuldig maak, onmiddellik verwyder sal word," het Francois gewaarsku. Die feesdirekteur is André (Righty) Retief en hy en Smit word deur nog ses mense bygestaan as feeskomitee. Op die oomblik is hulle hard besig met bemarking en Smit sê hulle is baie tevrede met die goeie samewerking wat hulle van sakelui ontvang. Mense wat meer inligting soek, kan hom kontak by 084-207-4444. Kaartjies vir die fees is beskikbaar by feeskantoor. Kontak Lyn (kantoorure) by 872-3317. Kaartjies is R70 (kinders o.18 is R30). Daar word ook met skole onderhandel om kaartjies te verkoop, met ’n deel van die opbrengs aan die skool. Belangstellendes kan Smit kontak. Mense wat belang stel in stalletjies vir die twee dae, kan Francois Smit skakel by 084-207-4444 of 872-3317.
More
News
|