Wie wil akteur word?
2006-01-26
DIE Break A Leg Dramaskool gaan eersdaags sy deure open in die Paarl en op Wellington.
Aan die hoof is Sophia Passerini (neé Hugo), ’n ou bekende in dramakringe.
Die klasse gaan by die Kunssentrum in die Paarl aangebied word, terwyl Wellington se perseel nog bevestig moet word.
Leerders sal daagliks tussen 14:30 en 17:30 kan aanmeld vir klasse, afhangend van beskikbaarheid en belangstelling. Sophia sê leerders van ses jaar af is welkom.
Sy beplan om elke kwartaal ’n opvoering en piekniek by die sentrum aan te bied.
Haar studente sal ook aan jeugfeeste en die eisteddfod deelneem.
“Ek dink dit is belangrik dat hulle die geleentheid kry om krities beoordeel te word deur ander mense.”
Sophia is self ’n ervare aktrise en deel van ‘Souttert’ wat gereeld optree.
Sy is ook deel van die rolverdeling vir ‘Faan se Trein’, een van verlede jaar se gewildste produksies. Dié stuk sal nog heel jaar te sien wees. Binnekort is sy ook te sien in ‘Going Up Again’, ’n nuwe program op SABC2.
Sophia het matriek geskryf by Hoër Meisieskool in die Paarl, waarna sy drama gestudeer het by Maties.
Sy het uitgebreide ondervinding as dosent/opleier in drama, stemafrigting, skryf van tekste, regie en ook publisiteit.
Sy het onder meer gewerk vir Spectrum Productions, Boland Kollege, Laerskool Gimnasium, Hoër Meisieskool, Procare, La Musique en Maties. In 2004 is sy Engeland toe, waar sy hoof van drama by Brittons School was.
Sophia sê sy gaan die getal leerders beperk, aangesien dit baie belangrik is vir haar om persoonlike aandag aan die studente te gee.
Belangstellendes kan haar skakel by 072-954-7214 of 869-8150, verkieslik voor Donderdag 2 Februarie.
More
News
|