Samaritaan platsak gelaat
2006-01-26
’n BARMHARTIGE samaritaan het Saterdag ’n duur les geleer. Elize Geldenhuys was vanaf Wellington na die Paarl onderweg, toe sy twee seuns langs die pad sien ryloop.
“Die seuns het so ordentlik gelyk en ek het vir hul veiligheid gevrees, toe laai ek hulle in.”
“Hulle wou by die Strooidakkerk afgelaai word en ons het heelpad lekker gesels. Hulle was baie vriendelik,” sê Elize.
Min het sy geweet dat terwyl die mannetjies so lekker gesels het, krap hulle in haar mandjie wat op die agterste sitplek gestaan het.
Elize se foon het om middernag gelui, toe die eienaar van die Limbo-nagklub in Lady Greystraat haar inlig dat haar beursie op die trappe van die klub gevind is.
Sy is dadelik daarheen en het die twee jong mans opgelet binne die klub.
Toe sy hulle konfronteer, het hulle baie aggressief geraak en die polisie se hulp is ingeroep. Die seuns is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
Meer as R300 is uit haar beursie gesteel, sowel as haar ID dokument met bestuurslisensie en ’n brief rakende haar fisiese gestremdheid.
Enigiemand wat op dié dokumente afkom, kan vir haar kontak by 872-8771. Haar volle name in haar ID boekie is Gertruida Elizabeth Geldenhuys.
More
News
|