Met 'n slap riem gevang
2006-01-26
DIE Drakenstein Munisipaliteit is onlangs met ’n slap riem gevang deur ’n bedrieër wat die Paarl Post se naam misbruik het in die proses.
’n Woordvoerder van die polisie het bevestig dat die Handelsmisdaadtak in Bellville ’n bedrogsaak van R294 000, wat deur die Drakenstein Munisipaliteit aanhangig gemaak is, ondersoek.
Na bewering het ene Denzil Mofokeng in November ’n skrywe aan die Munisipaliteit gerig op ’n briefhoof van die Paarl Post.
Hierin het hy beweer dat dié maatskappy verkeerdelik ’n bedrag van R294 000 in die Munisipaliteit se rekening inbetaal het. Hy het selfs bewys van die sogenaamde betaling aangeheg.
Skynbaar het ’n amptenaar van die Munisipaliteit die terugbetaling goedgekeur, wat summier elektronies gedoen is.
Teen die tyd wat hulle onraad vermoed het, was die rekening gesluit en die eienaar daarvan het voete gekry.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Anthony Sauls, sê daar is onmiddellik met ’n eksterne en interne ondersoek begin toe hulle kennis gekry het van die aangeleentheid.
Die resultate van hierdie ondersoeke word afgewag vir verdere stappe.
* A confidence trickster cost Drakenstein Municipality R294 000.
More
News
|