Raadslid verpas stembus
2006-01-26
Susan Botha
DRIE minute het nou waarskynlik ’n einde gebring aan die politieke loopbaan van die immergroen Drakensteinse raadslid Bokkie Claasen.
Verlede Donderdag om 17:00 was die keertyd vir die registrasie van kandidate wat aan die munisipale verkiesing op 1 Maart wil deelneem.
Onder die partye wat hul tande geslyp het vir die stembus, was UPSA (United Party of SA), met ant Bokkie as een van hul nuutste aanwinste.
Die kandidate se vorms moes van Kaapstad gebring word en soos die noodlot dit wou hê, mis hulle toe die afsnytyd met ’n paar minute.
“Ag my kind, ’n mens moet dit maar so aanvaar,” was ant Bokkie (80) se filosofiese kommentaar.
“Dit is die Here se wil en Hy maak nooit ’n deur toe sonder om ’n ander een oop te maak nie.”
UPSA was nie die enigste party wat voor die toe deur moes omdraai nie.
Nog 'n party se vorms was betyds, maar die meegaande betaling het te laat gekom.
Dit laat nou twee onafhanklikes en tien partye in die plaaslike speelveld: ACDP, ANC, DA, FD (Federale Demokrate), OD (Onafhanklike Demokrate), PAC, UDM, UIF (United Independent Front), Vryheidsfront Plus en WCC (Western Cape Community).
Die Verkiesingskommissie sal Maandag die nominasies sertifiseer.
* Town council stalwart Bokkie Claasen missed the deadline for nominations for the local government election by three minutes.
More
News
|