Wellington vertrap Van der Stel
2005-02-16
WELLINGTON se eerste krieketspan het Saterdag sy posisie in die Boland se Premier Skildkompetisie versterk toe hy vir Van der Stel met ses paaltjies geklop het. Beide spanne van Wellington Krieketklub speel in die skildkompetisie. Wellington I wen die loot op Stellenbosch en stuur Van der Stel in om eerste te kolf. Na ’n eerstepaaltjie-vennootskap van 66 lopies, sou die besoekers gewonder het of dit die regte besluit was. Geduld van die Wellington-boulers en goeie, akkurate boulwerk het egter druk op Van der Stel geplaas en ’n deurbraak verseker. Van der Stel eindig uiteindelik met 182 lopies op die bord. Broers Albert (3/26) en Martin van der Merwe (3/33) blink uit met die bal. Vir Van der Stel het die kaptein, N Nortcote (42, 4x3), goed vertoon. Wellington maak korte mette met die totaal en behaal dit in die 39ste boulbeurt met slegs vier paaltjies plat. Godfrey Stevens (69nun 4x5), Jaco Conradie (52 4x5, 6x3) en David Stevens (37 4x5) het met die kolf ingeklim. Op die Pen Basson-velde kon Wellington II nie hul oorwinning van vroeër die seisoen herhaal nie. Van der Stel kolf eerste en behaal 211/9. C Lotz (47 4x8) moker die besoekers se lopies. Miaan Rossouw (4/36) het die beste geboul vir Wellington. Benewens Richard Stroebel (56 4x8, 6x1), kon geeneen van die tuisspan-kolwers die mas opkom nie en Wellington word vir 176 lopies uitgehaal, 36 kort van ’n oorwinning. J Hatting (4/48) en R Steyn (6/34) is die Van der Stel-boulers wat die skade aangerig het. Saterdag speel Wellington I tuis teen Oostelikes I en Sondag speel Wellington II tuis teen Hermanus II.
More
News
|