Veerpyle vind die kol
2006-01-26
VEERPYLSPEL van hoë gehalte is gelewer tydens die Drakenstein Veerpylvereniging se Ope-kompetisie wat Saterdag gespeel is.
Die spelers het mekaar goed opgekeil en vir heelwat verrassing gesorg.
In die mans-dubbels semifinaal het Edward Noble en Arthur Fortuin vir groot opwinding gesorg toe hulle vir Jacques Manas en Maritz Idas geklop het, terwyl Irvine Carolissen en Charles Collie die knie moes buig voor Kevin van der Westhuizen en Charles Cloete.
In ’n titaniese finaal het Noble en Fortuin vir Cloete en Van der Westhuizen met 3-2 geklop.
Die enkel-spel het selfs meer spannend verloop.
In die semifinaal het Bennett Hendricks almal verras toe hy een van die gunstelinge vir Irvine Carolissen geklop het.
In die ander semifinaal het Arthur Fortuin ook ’n opskudding veroorsaak toe hy vir Brian Williams geklop het.
Hendricks het in die finaal na ’n hoër rat oorgeskakel en Fortuin 3-1 geklop.
In die vroue-afdeling is die junior Protea-speler Rozaan Sitzer en Elaine Herklaas gekroon as die pare-wenners met Herna Harker en Rolanda Loth tweede.
’n Taai tweestryd het hom in die finaal afgespeel. Jenise Nicholson was op dreef en het na haar ou-self gelyk terwyl Merna Harker ook goed vertoon het.
Nicholson het uiteindelik die oorhand gekry en wen 3-2.
Charles Cloete (2), Kevin van der Westhuizen (2) en Merwyn Jones het almal voltalle (180) behaal, terwyl Ettienne Festus ’n 171 gegooi het.
Bennett Hendricks en Kevin van der Westhuizen het elk die hoogste toemaaksyfer van 130 behaal.
Die Ope Uitdaagkompetisie begin 1 Februarie om 20:00 by die Ambagsvallei Sportkompleks. Navrae: Mervyn 072-631-4712.
More
News
|