Wellingtonner vaar rekord los
2006-01-26
DIE deursettingsvermoë van ’n Wellingtonse seilvaarder is onlangs beloon toe hy die Valsbaai Uitdaagwedvaart in ’n nuwe rekordtyd voltooi het.
Etienne Laubscher en sy navigator, Bob Orchard (69) het op 12 Januarie met hul tweede probeerslag die twee- jaar-oue rekord van die wêreldbekende vaarder, Bertie Reed, van 11 uur 20 minute na 10 uur en 36 minute verbeter.
Die Wilde Valsbaai Uitdaagwedvaart behels die vaar van die bedrieglike roete tussen Gordonsbaai en Simonstad, met ’n seiljag van korter as 8m en met net twee bemanningslede aan boord.
Die terugtog moet binne 25 dae aangepak word om vir die rekord in aanmerking te kom.
Etienne Laubscher (44) en Bob Orchard (69) het sowat twee maande gelede probeer om die rekord te verbeter, maar moes enkele ure ná hul begin het tou opgooi nadat ’n sterk weste-wind hul planne deurmekaar gewaai het.
Op 11 Januarie het hulle weer die tog op hul seiljaggie Tomcat, wat slegs 5,8m (19 voet) lank is, aangepak.
Laubscher het reeds om 06:00 met die voorbereidings begin en om 11:25 is Tomcat se seile omhoog getrek en styf gespan in ’n matige suidwestewind.
Kort voor lank rek die Tomcat sy bene teen vier tot vyf knope in die rigting van Rob Eiland.
Die eerste been word voltooi in 4 ure 51 minute.
Die twee besluit om die Donderdagoggend terug te seil aangesien ’n sterk westewind voorspel word.
Maar die wind waai baie liggies en die twee is onseker of hulle die kans moet waag.
Tomcat spring nietemin om 07:55 uit Simonstad weg. Ná 500m dobber die jag doodstil in die water met nie ’n druppel wind wat waai nie.
Laubscher en Orhard wik en week vir die volgende drie uur terwyl hulle teen 3,5 knope voortsleep, of hulle nie eerder moet terugdraai nie en weer die roete aanpak as die wind optel nie.
Hulle besluit om deur te druk en hoop vir sterker wind.
Kort voor Steenbraspunt waai die wind baie sterk en daar is oral witwater.
Na 'n noue ontmoeting met 'n walvis, en in 'n baie sterk wind, word die wedvaart voltooi in 5 uur en 45 minute - ’n totale tyd van 10 uur en 36 minute.
“Terug op droë grond het ek, met ’n seer lyf so na my nerfaf knieë gekyk en daardie ou advertensie van ’After action Satisfaction’ het by my opgekom,” sê Etienne.
More
News
|