Hospitaal oorval
2006-02-02
DIE Paarl Hospitaal, wat die vierde besigste ongevalle-afdeling in die Wes-Kaap het, was so oorval die afgelope naweek dat hulle tydelik hulle deure vir die publiek moes sluit.
Die senior superintendent van dié hospitaal, dr Breslau Kruger, het gesê dat die hospitaal pasiënte van so ver as Vredendal opneem, en dit ly tot ’n geweldige las op die hospitaal.
Met die toestroming van pasiënte die afgelope naweek, is hulle genoodsaak om die distrikshospitale in te lig dat net ernstige noodgevalle opgeneem sal word.
Hy het gesê dat die kapasiteitsprobleem nie by ongevalle lê nie, maar in die binnepasiënte-afdeling van die hospitaal.
“Die hospitaal het 250 beddens, en as dié vol is en nuwe pasiënte kan nie opgeneem word nie, blokkeer dit ongevalle waar hulle dan moet bly totdat daar plek in die hospitaal beskikbaar is.”
Dr Kruger het gesê dat opgradering van die hospitaal binnekort begin, waarna nog 77 beddens beskikbaar sal wees.
Die opgradering sal oor ’n tydperk van vier jaar verloop, en die fasiliteite sal drasties verbeter word.
* Paarl Hospital was forced to close its doors temporarily over the weekend after being inundated by patients.
More
News
|