249 kandidate wil staan in Drakenstein
2006-02-02
UITEINDELIK is die lang wag verby en kiesers kan nou sien wie is kandidate vir watter party. Altesame 249 kandidate is genomineer vir die Drakenstein munisipale verkiesing.
Sewentien van die huidige raadslede gaan uit die politiek tree.
Onder hulle is drie vooraanstaande raadslede: burgemeester Herman Bailey, onderburgemeester Anthea Sheldon en die Speaker, Kilion Cekiso. Hulle is aldrie van die ANC.
Die ander veertien wat nie weer genomineer is nie, is Miriam Adriaanse (ID), Bokkie Claasen (NNP), Dene Coetzee (ANC), Titus Hendricks (ANC), Joseph Jacobs (ANC), Marion Julius (DA), Pieter Kana (ANC), Danie Kotzé (DA), BM Mbobosi (ANC), Lucy Ninzi (ANC), Matty Paulsen (ANC) en Jeffrey Scheepers (ANC), John Maralack (ANC) en Craig Sheldon (ANC).
Vir twee raadslede wat nie in Drakenstein genomineer is nie, is dit dalk nog nie neusie verby nie, aangesien hulle pryk op die partylyste vir die Kaapse Wynland Distriksraad.
Hulle is Chris Leander (ANC) en Bernado Maralack (ANC).
Tien partye en twee onafhanklike kandidate gaan mekaar die stryd in die Paarl aansę, met ’n totaal van 249 kandidate, waarvan 171 in wyke staan.
Die partye is (alfabeties) die ACDP, ANC, DA, FD, ID, PAC, UDM UIF, VFP en WCC.
Vier partye, die ANC, DA, ID en VFP, bestry al 31 wyke terwyl baie kandidate van die ander partye in meer as een wyk staan. Elke party het ook ’n proporsionele lys.
Die ACDP het 19 wykskandidate, die Federale Demokrate het 14, die UIF 12, die UDM vier, en die PAC een (wat in vier wyke staan).
Die Vryheidsfront Plus het ses kandidate en die WCC het 21 wykskandidate. Die onafhanklike kandidate is André van der Spuy de Villiers en Vuyiswa Moko.
Twee partye het die afsnytyd in Drakenstein gemis: die eerste was UPSA, wat nie hulle vorms betyds ingedien het nie, en die tweede was die FCP (First Community Party), wat nie die deposito voor die spertyd inbetaal het nie.
Die volledige lys kandidate is beskikbaar op die webwerf www.elections.org.za.
* A total of 249 candidates have been nominated for the Drakenstein municipal council elections.
More
News
|