Waterbom bars oor man
2006-02-02
Lise Beyers
’n VRYWILLIGE brandbestryder is Donderdagoggend byna sy lewe kwyt, toe hy deur ’n muur water uit ’n helikopter getref is.
Ernie Hagen, van die restaurant Vercelli, het saam met die boere van die Bovlei probeer om plase te red van die verwoestende brand.
Die brand het voorverlede naweek naby Antoniesvlei teen Bainskloof ontstaan, deurdat ’n braaivuur vermoedelik in ’n onbeheerde gebied gestig is.
Dit het twee dae geduur om die brand onder beheer te bring. Toe ’n sterk suidoostewind Woensdagmiddag begin waai het, het die smeulende plantegroei weer vlamgevat.
Dié keer het die brand oor die Bainskloofpad gespring, in die Kromrivier afgehardloop en oor plase gestorm.
Ernie vertel vanuit sy hospitaalbed hoe hy saam met Kosie du Toit van die plaas Kleinevallei na Patatskloof gegaan het, wat die oggend geweldig gebrand het.
“Ek ken die plaas goed, want ek het dikwels met my perd daar gaan ry. Ons was ’n hele groepie mense wat gekyk het hoe die helikopters die vlamme in ’n kloof natgooi,” sê Ernie.
“Die vuur het skielik gespring na ’n ander gedeelte, weg van die kloof af, en ons is inderhaas soontoe. Die een helikopter het na die gebied gehaas en ek het vir hom probeer beduie waar hy moet water gooi.
“Toe ek weer sien, is daar ’n muur water wat op my val. Al wat ek kon doen, is om op my knieë te gaan sit en my arms oor my kop te hou. Dit is die laaste wat ek kan onthou.
“Toe ek my oë weer oopmaak, het ek gedink dat ek dood is, maar Kosie het my gehelp en die ambulans is ontbied.”
Tot dusver is vasgestel dat vier rugwerwels beseer is, sy ribbes gekraak is en sy nek beseer is.
Hy kan skaars beweeg en daar word gewag tot sy toestand stabiliseer voordat hy na Durbanville Medi-Clinic vervoer kan word vir ’n tonnel-skandering.
Talle plase is die Woensdagaand ontruim toe die vlamme al hoe nader aan hulle beweeg het. Arbeiders het die nag by hul besittings op vragmotors gewaak.
Die helikopters moes help om die vlamme van wonings te keer, ook rietdak-plaashuise wat met water gegooi is.
By die Hawekwa-jeugterrein is ’n vreesbevange groep studente wat met oriëntering besig was, ontruim, toe die vlamme reg om die hutte gebrand het.
Van die plase het groot skade gely. Op Canetsfontein is meer as 600 ha wingerd en boorde verwoes, terwyl alles behalwe die geboue op Patatskloof gebrand het.
Benewens brandbestryders van die Wynland Distriksmunisipaliteit en die Drakenstein Munisipaliteit, was boere en plaasarbeiders dwarsdeur die dag en nag met hul trekkers en spuitpompe byderhand om hul bure te help.
Van die boere het uit die supermarkte op Wellington verversings na die moeë brandbestryders aangery en net anderkant toe gekyk as die watervlak van hul plaasdamme met elke skep van die helikopter, laer gesak het.
More
News
|