Hugo soek sukses op Wellington
2006-02-02
DIE opwindende vleuel Alvin Hugo, wat verlede jaar nog vir Albions Rugbyklub in die Paarl gespeel het, sal vanjaar vir Wellington uitdraf.
Hugo wat verlede jaar vir beide die WP en Springbok Amateur-spanne uitgedraf het, was Saterdag vir die Boland in aksie.
Die Paarliet het ’n drie gedruk vir die Boland B-span tydens die opwarmingswedstryd teen die WP B-span wat Saterdag op Wellington gespeel is. Hugo moes egter die veld verlaat nadat hy ’n kniebesering opgedoen het.
Met die twee Boland-vleuels, Rayno Benjamin en Jongi Nokwe, wat albei by die Stormers betrokke is, is die kanse goed dat Hugo vanjaar, veral tydens die Vodacom-bekerreeks, ’n groot rol vir die Boland Kavaliers kan speel.
Hugo se kniebesering beteken egter dat hy vir die volgende vier weke nie in aksie sal wees nie.
Die klipharde agsteman, Henley du Plessis, het ook las van ’n ligte kniebesering, maar sal reg wees met die aanbreek van die amptelike seisoen.
Heelwat Wellington-spelers het Saterdag gewys dat hulle reg is om vir die Kavaliers uit te draf.
Frankie Horne (flank), Louw Schabort (vleuel) en Janro van Niekerk (stut) het Saterdag ’n barshou vir die Boland A-span gespeel.
Die Boland het albei wedstryde onderskeidelik 28-17 en 35-12 gewen.
Die Boland se afrigterspan was tevrede met die verbetering wat die spelers getoon het in die lynstane en die samespel tussen voor- en agterspelers.
Die gebrek om uit diepte te speel is as ’n probleem-area geïdentifiseer, maar volgens die spanbestuurder, Denver Pienaar, is dit iets wat aandag geniet.
Die twee spanne van die Kavaliers het gister in hul laaste opwarmingswedstryde teen die Maties op Stellenbosch te staan gekom.
Die Kavaliers speel in hul eerste Vodacom-beker-wedstryd op 11 Februarie teen die Griekwas op Wellington.
More
News
|