Boland vroue klop OP in naelbyt-stryd
2006-02-02
DIE Boland Vrouekrieketspan het Saterdag op Boland Park teen die Oostelike Provinsie te staan gekom in die Nasionale Vroue Liga.
OP het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Boland het vroeg reeds die kolwers onder druk geplaas en op ’n gereelde basis paaltjies geneem.
Claire Terblanche (2/10), Leighshe Jacobs (2/17) en Alecia Smith (2/20) het met die bal uitgeblink terwyl OP vir 120 lopies uitgeboul is.
Die enigste OP kolwer wat bietjie weerstand gebied het, was Shafiqa Pillay wat die dag op ’n onoorwonne 44 afgesluit het.
Die Boland se lopie-jaagtog het goed begin, met ’n 48-lopievennootskap deur Audrey Petersen (30) en Sunette Loubser (27).
Nadat ’n paar vinnige paaltjies geval het, het die druk kwaai toegeneem.
Paaltjies val hierna met reëlmaat en die Bolanders kon nie regtig momentum opbou nie.
Met slegs een paaltjie staande, word die wenlopies in die 38ste boulbeurt aangeteken.
Na dié senutergende oorwinning, is die Bolanders steeds op dreef vir ’n posisie in die halfeindronde van die kompetisie. Hul volgende wedstryd is op 18 Februarie teen Grens in die Paarl. Die kragmeting begin om 10:00.
More
News
|