Dubbel-goud vir Boland se twee veelkamp-atlete
2006-02-02
DUBBELGOUD vir die Boland. Nee, ons praat nie van toekennings tydens ’n wynskou nie, maar van goue medaljes in atletiek.
Die Boland se Veelkamp Kampioenskap-span wat bestaan het uit die twee atlete Janice Josephs van Maties AK en Sors Joubert van die Wellington kampus van CPUT het die naweek aan die SA Veelkamp Kampioenskap deelgeneem.
Dié kampioenskap is een van die mees uitmergelende byeenkomste op die atletiekkalender en bestaan uit die tienkamp vir mans (100m, verspring, gewigstoot, hammergooi, 400m, 110m hekkies, diskusgooi, paalspring, spiesgooi en laastens 1500m) en ’n sewekamp vir vroue (100m, verspring, hoogspring, gewigstoot, 100m hekkies, spiesgooi en die 800m).
Josephs het ’n goue medalje verower met ’n finale puntestand van 5936 punte, slegs 22 punte kort van ’n nuwe SA-rekord. Dit is een van die beste prestasies in wêreldatletiek vanjaar.
Dié prestasie maak Josephs dan ook ’n baie sterk aanspraakmaker op die goue medalje tydens die Statebond Spele in Maart.
Kort hierna het Sors Joubert verseker dat die manstienkamp-medalje ook na die Boland toe kom.
Joubert het die moordende tienkamp met 7150 punte gewen en só afgereken met die ander gunstelinge Francois Pienaar (Vrystaat) en Terry Wepener.
Intussen het Janus Robberts van Maties sy segetog voortgesit toe hy Vrydagaand in Pretoria tydens die ASA Kampioene Uitdaagreeks die 7,28kg swaar gewig ’n uitstekende 21,06m ver gestoot het.
Met dié fantastiese poging het Robberts bewys dat dit nie ’n gelukskoot was toe hy op 13 Januarie op Coetzenburg, John van Reenen se rekord van 32 jaar gebreek het nie. Met sy stoot van 21,06m het hy weer eens die Bolandse rekordboeke herskryf.
More
News
|