Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Stormers sukkel om impak te maak

Stormers sukkel om impak te maak
 
2006-02-02


DIE Stormers het Saterdag op skrif ’n oortuigende sege van 73-5 oor die Southern Spears behaal, maar in die praktyk skort daar nog heelwat skaafwerk as die Kaapse span hoop om welslae in die Super 14-kompetisie te behaal.

Vrotsige hantering was die Stormers se grootste kopseer wat daartoe gelei het dat hulle eers na ’n halfuur se spel punte op die bord kon sit.

Die Stormers het heelwat besit in die kontak-situasie verloor en kon nooit werklik ’n ritme opbou wat hulle in punte kon omskep nie.

Die Spears moet geprys word vir die manier waarop hulle die meer ervare span in bedwang gehou het.

Die span van die Suidoos-Kaap se stoom het egter in die tweede helfte begin opraak en toe breek die damwal.

As mens egter in ag neem dat twee van die Spears-spelers met rooikaarte beboet is - een in die 31ste minuut en die ander met tien minute speeltyd oor - plaas dit die sege beslis in ’n ander lig.

Die wedstryd is deur heelwat onderonsies ontwrig met selfs die Stormers-kaptein, Schalk Burger, wie gewoonlik ’n punt daarvan maak om nie by struwelinge betrokke te raak nie, wat sy koelkop verloor het.

Die Boland Kavaliers wat vir die Stormers in aksie was, het wel gewys dat hulle reg is om te wys wat hulle op internasionale vlak kan maak.

Jonghi Nokwe en Rayno Benjamin het altwee goeie lopies ingekry en albei het dan ook twee keer agter die doellyn gekuier. Dit was veral Benjamin wat met sy dartel-lopies en kort skoppies die Spears se verdediging getoets het.

Piet van Zyl, wat as sentermaat vir Jean de Villiers ingespan is, het ’n stil wedstryd gehad.

Hy het min geleentheid gekry om met die breekslae te spog waarmee hy al soveel drieë vir die Boland gemaak het en sy kanse om die afrigters te beïndruk is ook kortgeknip toe hy in die tweede helfte vervang is.

Interessant is dat beide die Stormers en Southern Spears Saterdag deur oud-Gimmies aangevoer is.

Burger het in 2001 gematrikuleer terwyl Johnson maar in 2004 eers die skoolbanke agtergelaat het.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za