Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


SA afslaer vir Nederburg

SA afslaer vir Nederburg
 
2006-02-02


VIR die eerste keer in 32 jaar is daar ‘n Suid-Afrikaanse afslaer op die Nederburg Veiling vanjaar op 7 tot 8 April.

Hy is die internasionaal-erkende Stephan Welz, wat aan die hoof van Stephan Welz & Co staan en ook in die direksie van Sotheby’s International dien.

Sy aanstelling volg op die aftrede van die Brit Patrick Grubb, wat sedert die eerste Nederburg Veiling in Paarl in 1975 die afslaer was, en tot op hede 250 000 kissies ter waarde van bykans R90-miljoen opgeveil het – ‘n prestasie wat in die Guinness Book of Records opgeteken is.

Welz is ‘n gesiene afslaer van antieke en beeldende kunswerke, maar het ook op baie wynveilings van die Cape Winemakers’ Guild en etlike private wynversamelaars in Johannesburg waargeneem.
Hy is ‘n talentvolle mens en vanweë sy beroep ‘n bedrewe redenaar en ‘n gewilde uitsaaier en TV-aanbieder.

Vir ses jaar het hy ‘n televisieprogram oor die evaluering van skilderye, kunswerke en oudhede aangebied wat groot byval gevind het.

Hy is ‘n gerespekteerde navorser en skrywer oor die beeldende en sierkunste en ‘n deskundige oor Kaapse silwer.

Sy eerste boek, Cape Silver, wat in 1976 uitgegee is, bly die definitiewe werk oor die onderwerp. Hy het sedertdien twee werke oor kunswerk op veilings gepubliseer.

“Ek is bly om by die gesiene Patrick Grubb oor te neem – en dis ook hoog tyd! Ek het hom op die heel eerste Nederburg Veiling bygestaan – en neem nou eers na 31 jaar sy plek in,” het hy gesê.

Stephan is in 1943 in Worcester in die Kaap Provinsie gebore, die derde van vyf seuns. Sy vader Jean was ‘n beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaar, asook ‘n argitek.

In 1975 het hy uitvoerende direkteur en in 1980 besturende direkteur van Sotheby Parke Bernet SA geword. ‘n Aanstelling tot die direksie van Sotheby’s International het dieselfde jaar gevolg en in 1983 is hy as direkteur van Sotheby’s Londen aangestel.

Hy het jare lank in die raad van trustees van die William Fehr Versameling, Die Kasteel, Kaapstad, en die William Humphreys Kunsgalery, Kimberley, gedien en dien tans in die uitvoerende raad van trustees van die Vriende van die Johannesburg Kunsgalery.

In die loop van sy werk in die maatskappy en as afslaer het Stephan Welz sy kennis op ‘n wye belangstellingsveld uitgebrei – in die skilder- en beeldhoukuns, Africana boeke en landkaarte, Oosterse keramiek, muntstukke en silwer – en nou voeg hy wyn by die lys.
Welz is ook die afslaer by die liefdadigheidsveiling op Sondag, 9 April, waar lede van die publiek kan deel hê in die belewenis van die Nederburg Wyn, Voedsel en Modeskou van Seldsame Kaapse Vondse te Nederburg in Paarl.

Kaartjies ten bate van die Stigting vir Orgaanskenkers, Die Mothers’ Programmes en die Hospice Palliatiewe Sorge Assosiasie van Suid-Afrika, is teen R500 elk by Computicket te koop. Vir meer besonderhede, besoek www.computicket.com of www.nederburg.co.za.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za