Paarlse meisie blaas musiekwêreld warm
2006-02-09
SY het eintlik heel per ongeluk die saxofoon in die hand gekry, maar vandag is Lou-Ann Stone van die Paarl ’n naam wat warm in die nekke van bekende musikante blaas.
Sy is lid van die Oude Libertas Show Band, 16 musikante wat hul debuutproduksie Vrydagaand by dié amfiteater buite Stellenbosch op die planke bring.
Lou-Ann (21) het as dogtertjie in Laerskool Noord-eind dit geniet om al wat ’n instrument is te leer speel in die slagorkes van musiekman Abrie Wentzel.
Sy is Hoër Meisieskool Paarl toe, maar musiek as vak het nie haar droom, om fluit te bespeel, ingesluit nie. So is sy na die Frank Pietersen Musieksentrum, waar sy moes hoor daar is nie ’n fluit vir haar nie. ’n Fagot dalk, het sy haar tweede keuse geopper.
Ook nie, maar daar was wel ’n saxofoon wat êrens in ’n hoek gebêre was, en wat sy sou kon gebruik indien sy haar keuse van instrument sou verander.
So gemaak, vertel Lou-Ann. Maar toe sy in die hoof se kantoor sit om die inskrywings te voltooi, hoor sy tromme speel. Net daar het sy gevra of sy dan eerder afrigting in tromme kon kry.
Sy was 14 jaar oud, en die volgende dag het sy haar eerste smakie gehad van slagwerk in ’n simfonieorkes. Twee jaar later het sy die saxofoon by die musieksentrum kon nadertrek.
Ná matriek is Lou-Ann na die Universiteit Stellenbosch waar sy verlede jaar die graad B.Mus. behaal het. Vanjaar staan haar kop so tussen die musiekmaak en die Universiteit Kaapstad waar sy vir MA-graad in kreatiewe skryfwerk ingeskryf het.
Tydens haar kursus op Stellenbosch het sy by regie betrokke geraak en verlede jaar was sy deel van die suksesvolle KKNK-produksie Mesmeraais.
Sy speel in die Jazzband ESP van Stellenbosch en gee onderrig in saxofoon aan kinders by die universiteit se musiekskool.
Verlede jaar het sy en twee mede-studente ’n besigheid gestig wat ligte en klassieke musiek bevorder.
“Ek dink nie dis heeltemal my familie-gene wat my in die musiekrigting laat gaan het nie,” glimlag Lou-Ann.
“En ook nie my broer se invloed nie. Hy is heeltemal sportmal.”
Haar ouers woon steeds in Noorder-Paarl, en haar broer is vanjaar in matriek aan HJS.
“Musiek is ’n universele taal. Dit is die een medium waar mense uit verskillende agtergronde in ’n kreatiewe omgewing ontmoet en kan saamwees,” sê Lou-Ann.
* From Frank Pietersen music centre to the big stage, that’s where a young Paarl woman and her saxophone are headed.
More
News
|