Simbool van omgee
2006-02-09
IN lewe was sy nie eintlik bekend of beroemd nie, maar met haar sterwe het Rosetta Steyn van die Paarl ’n simbool van naasteliefde, van hoop geword.
Rosetta (48) het die afgelope jare in die omgewing van die Spes Bona garage gewoon.
Sonder enige herberg, het sy in ’n halfgeboude huis in die nuwe aanleg ingetrek.
Die mense in die omgewing het hulle oor haar ontferm en op haar beurt het sy los werkies vir hulle gedoen.
“Sy het ’n hart van goud gehad,” sê Carolus Petersen, een van die inwoners daar, en vertel dat veral die kinders op die omliggende plase baie lief was vir haar.
Haar enigste suster woon in Chicago, maar hulle was die afgelope 26 jaar vervreemd van mekaar.
Toe sy onlangs sterf, was die logiese uitkoms ’n armlastige begrafnis.
“Dit het darem net te veel gevoel of ons haar weggooi,” sê Petersen.
Hy en Isaac Petersen het ingespring en met die hulp van die mense van Spes Bona is ’n ordentlike begrafnis vir haar gereël.
Van die plaaseienaars het betaal vir ’n bus om begrafnisgangers aan te ry.
More
News
|