Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Busongeluk eis twee kinders

Busongeluk eis twee kinders
 
2006-02-09


’n GEMEENSKAP is in rou gedompel nadat ’n bus-ongeluk naby Malmesbury die lewe van twee kinders geëis het, terwyl talle beseer gelaat is.

Die ongeluk het Dinsdagmiddag om 14:00 plaasgevind toe ’n bus 54 kinders vanaf die Anne Pienaar Gedenkskool na hul onderskeie tuistes op plase in die Paardeberg-gebied vervoer het.

Die bus het oor die plaas Granaatfontein gery toe die bestuurder op ’n grondpad beheer verloor het nadat die remme vermoedelik ingegee het.

Hy het na bewering teen ’n wal vasgery, waarna die bus omgeslaan het en feitlik op die stoep van ’n arbeiderswoning tot stilstand gekom het.

’n Graad twee leerling, Michaela van Rooyen (6), en Estelle van Wyk (13), graad 5, is voor die oë van hul maatjies dood.

Een van die beseerdes se ma, Dina Hendriks, het vertel hoe sy in die wingerd gewerk het toe sy die bus sien aankom het.

“Skielik sien ek ’n hengse stofwolk. Ek het eers nie besef wat gebeur het nie, maar toe ek die gillende kinders hoor het ek geweet dat daar groot fout is,” het ’n geskokte Dina gesê.

“Ek het na die toneel gehardloop en my eerste gedagte was om my dogter, Abigail, te soek.

“Die kinders het al gillende uit die bus geklim en rondgehardloop. Daar was oral bloed.”

Dina het uiteindelik haar dogter binne die bus gevind waar sy in haar sitplek vasgepen was.

Die ongeluk het omtrent reg voor die Hendrikse se huis plaasgevind.
Abigail is deur reddingswerkers uit die bus gesny en is met
beenbeserings na die Paarl hospitaal geneem.

Nog agtien leerders is na die Swartland Hospitaal geneem met beserings.

Die bestuurder van die busm Michael Sampson, het gesê dat die een oomblik het die bus remme gehad en toe hy weer wou rem trap, was daar niks.

“Ek is nie seker wat gebeur het nie, want ek is deur die voorruit geslinger en het eers later my bewussyn herwin.”

Abigail was gister steeds te ontsteld na die ongeluk om te praat.

Een van die oorledenes, Michaela, was haar stiefsuster en hulle was baie goeie vriende.

Haar ma het gesê dat sy sedert die ongeluk nie ’n woord gesê het nie en bars kort-kort in trane uit. Die bewoë skoolhoof, Jan Sass, was so gou moontlik op die toneel nadat hy die nuus ontvang het.

Hy het probeer om vriende en familielede van die oorledenes en beseerdes by te staan.

“Die hele Malmesbury gemeenskap is diep geraak deur die voorval.
Baie van die kinders wat in die bus was, is vandag terug op skool, maar met ’n groot hartseer.”

Die skool beplan om ’n gedenkdiens vir die oorlede leerders te hou.

Die polisie op Malmesbury ondersoek ’n klag van strafbare manslag, asook roekelose bestuur.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za