Nasionale vere vir kleiduif-skut
2006-02-09
Malané Bosman
DIé sport is nie vir manne met voete van klei nie. Dis vir vinnige manne wat kan raakskiet.
Die teiken is ook lank nie meer van klei nie, maar niemand sal vat aan die oer-oue naam van die sport wat boer en besigheidsman al jare lank bedryf nie.
En vanjaar is die Paarl in die kol, met ’n nasionale kampioen in kleiduifskiet!
Gideon Malherbe (39), wingerdboer van Simondium, het verlede jaar WP-kleure gekry, en nou kan hy spog met die Protea-embleem op sy baadjiesak.
Gideon jag graag en hy praat oor sy dubbelloop Beretta en ander gewere asof hy van ’n mooi vrou vertel.
Hy het as jong seun saam met sy pa Fanie kleiduif geskiet, en toe later ’n kompeterende sport gesoek “waarmee mens kan oud word”, het hy dié lekker jare onthou.
Nou is Gideon lid van die Valley Gun Club in die Agter-Paarl en gedy hy op die jaginstink, die kompetisie en natuurlik, die sosiale deel van kleiduifskiet.
Verlede jaar het hy ernstig begin skiet. En sy visier was reg ingestel - op 7 April vanjaar neem hy in Sydney, Australië, deel aan die Wêreldkampioenskappe.
Daar is verskillende dissiplines - waarvan “Trap”, waar die kleiduif voor jou uitgaan, dwars vlieg en vinnig klim, dié metode is waarin Gideon volpunte kry.
Soos in “Trench” en “Skeet” word by “Trap” formeel volgens voorskrif oor baan en spoed na teikens geskiet.
“Sporting” weer, is ’n nabootsing van informele jag waar die teiken oor jou kop vlieg, of op die grond rol.
Verskillende haelgewere word vir elke dissipline gebruik. Die Valley Gun Club is die tuisveld van 200 lede, met die oudste op 80 nog vol vuur.
In April word die SA Grootkampioenskap hier gehou en die lede is erg trots dat in 2010 ’n wêreldkampioenskap hier onder hul eie bloekombome in die Agter-Paarl aangebied gaan word.
More
News
|