Kattekwaad laat motoris wielloos
2006-02-16
’n MAN van Mitchellsplein is tans briesend, nadat ’n groep tieners sy motor gesteel het en duisende rande se skade aangerig het.
Nicklaas Pieters het by familielede gekuier in Barkerstraat, Paarl-Oos, toe sy ligblou Opel-stasiewa uit die huis se oprit gesteel is deur ses minderjariges.
Die jonges het vir ’n plesierrit deur die strate gery, maar die pret was van korte duur.
Omstreeks 02:00 Sondagoggend het hulle beheer oor die voertuig verloor en in ’n muur van die Bethel Cong Kerk ingeploeg.
Nicklaas is vroeg die oggend deur lede van die polisie gekontak om vir hom in kennis te stel van die ongeluk, voordat hy besef het sy motor is weg.
Hy is na die Paarl-Oos polisiestasie waar hy die jong mans gekonfronteer het. Die skade aan sy motor beloop R12 000 en hy wil hê die seuns moet opdok.
“Ons het ’n skriftelike kontrak aangegaan, waarin hulle voorgegee het dat hulle vir my sal vergoed vir die skade wat hulle aangerig het. Tot dusver het nog net een van hulle vir my R500 gegee.
“Ek moes reeds R3400 aan die insleepdiens betaal om my motor terug te besorg, en nou sit ek boonop in die Paarl gestrand,” het ’n ontstoke Nicklaas gesê.
* A man’s car is a write-off after youngsters took it for a joy ride.
More
News
|