Sy busse 'sal bly staan'
2006-02-16
’n PAARLIET wat munisipale grond gebruik vir die parkering van sy busse, het verlede week sewe dae kennis gekry om sy voertuie te verwyder van die oop terrein oorkant Paarl polisiestasie.
“My voertuie staan alreeds ses maande lank op dié parkeerterrein en dit hinder vir niemand nie.”
So sê Yusuf Moerat oor klagtes dat sy busse en vragmotors permanent oorkant die polisiestasie staan.
Volgens klagtes word die voertuie hier gediens en die bestuurders slaap glo ook daar in die voertuie.
Moerat het al verskeie aanmanings ontvang omdat hy sy voertuie op publieke oop ruimtes laat. Volgens ’n woordvoerder van die verkeersafdeling sal die voertuie geskut word as Moerat hulle nie binne sewe dae verwyder nie.
“Daar is mense wat jaloers is op my besigheid. Dit kan net hulle wees wat nou die lewe vir my probeer moeilik maak,” meen Moerat oor die klagtes.
Hy hou vol dat hy volle reg het om die terrein te gebruik, totdat die munisipaliteit vir hom ’n alternatief vind.
“Ek is heeltemal bereid om ’n stuk grond te koop, of huur te betaal, as die Munisipaliteit so gaaf sal wees om vir my ’n geskikte perseel te vind.
“Maar ek gaan nie toelaat dat ek gedreig word nie,” het Moerat gesê oor die twee munisipale waarskuwings wat hy ontvang het. Mense wat eiendom beskikbaar het, kan Moerat kontak by 862-1663. * A Paarl bus company has nowhere to park its vehicles.
More
News
|