Verkeer geplunder
2006-02-16
DUISENDE rande se skade is by die Daljosafat toetssentrum aangerig, toe diewe ingebreek het en verwoesting gesaai het.
Die voorval het Woensdagaand omstreeks 23:00 plaasgevind by die motor-lisensiëringsafdeling van die sentrum.
Volgens senior verkeersbeampte Corrie Cornelissen is hy 23:15 wakker gebel deur die sekuriteitsmaatskappy omdat die alarm by die sentrum afgegaan het.
Met sy aankoms daar saam met die polisie, het hulle die verwoesting aangetref. Twee veiligheidshekke is oopgebreek en die glasdeure is stukkend geslaan.
’n Gat is in die deur van die inloop-kluis gesny met ’n hoek-slyper en sodoende kon die rowers die kluis oopmaak.
Hulle harde werk was egter nutteloos, want daar was geen geld om te steel nie.
“Dit lyk asof die kwaaddoeners die gebou deur die dak binnegegaan het en op die plafon rondbeweeg het, want hier en daar is ’n stuk van die plafon gebreek,” het Cornelissen gesê.
“Hoekom hulle die deure en sekuriteitshekke moes verrinneweer, weet ons nie.”
Behalwe die skade wat aan die gebou aan gerig is, is daar niks gesteel nie.
Die motorregistrasiekantore was Donderdag tydelike gesluit om die skade op te ruim, maar Vrydag was dit weer oop vir besigheid.
Die polisie is in die proses om die vingerafdrukke wat op die toneel gevind is, te ontleed.
* The Drakenstein traffic centre was hit by thieves.
More
News
|